Aanvullende Voeding in die Produksiefase Deel II

Aanvullende Voeding in die Produksiefase

Deur Dr. Heinri Spangenberg – Direkteur: Tegniese Verkope AFGRI Veevoere

In teenstelling met onderhoudslekke wat slegs op winterveld of met swak kwaliteit ruvoer gebruik word en ten doel het om die dier te onderhou, word produksielekke vir verskillende produksiedoelwitte op ʼn verskeidenheid van veld- of ruvoertipes aangewend.

‘n Winsgewende alternatief tot voerkraalafronding is die korrekte aanwending van groen aangeplante-of natuurlike weiding vir groei en moontlike afronding van diere. Resultate met so ‘n stelsel is dikwels teleurstellend en daarom is dit belangrik om die dier se behoeftes en die weiding se beperkings met kundige bestuur en aanvullende voeding te versoen tot ‘n winsgewende praktyk.

Die voedingswaarde van natuurlike groen weidings is onvoldoende om in die voedingsbehoefte van jong groeiende diere te voorsien vir die doel van maksimale uitgroei en afronding. Produksielekke kan onder andere hier aangewend word om groenweidings maksimaal te benut deur jong groeiende diere ekonomies uit te groei en met die nodige aanpassing in die voedingstrategie ook af te rond. Soms is dit ook nodig om produksielekke vir lakterende koeie en ooie of jong groeiende diere op somer- of winterveld te voorsien, ten einde produksiedoelwitte te bereik. Produksielekke het dus ten doel om veral hoë kwaliteit verbyvloeiproteïen, energie, minerale en spoorminerale gebalanseerd te verskaf om weidingstekorte aan te vul ten opsigte van produksiedoelwitte.

WENKE EN DUIMREëLS VIR GROEI EN AFRONDING VAN BEESTE EN SKAPE OP GROENWEIDINGS

  • Goeie resultate kan slegs behaal word op goeie kwaliteit en kwantiteit groen aangeplante- of natuurlike weiding in die aktief-groeiende stadium. Kwaliteit en lengte van groeiseisoen van natuurlike weiding neem af van wes (soetveld) na oos (suurveld) oor SA. Dit impliseer dat beter prestasies met groei- en veral afronding op groen natuurlike weiding, in die soetveld areas van die land behaal sal word.
  • Afhangende van die streek en periode in die groeiseisoen is daar groot variasie in die voedingstof inhoud van natuurlike weiding, terwyl goed bemeste aangeplante weiding soos raaigras meer konstante en hoër voedingstofwaardes sal handhaaf. Normaalweg word 65-90% van die proteïen in groen weiding in die rumen afgebreek en is nie beskikbaar in die laer spysverteringskanaal nie. Sou die weiding wel in die proteïenbehoefte kon voorsien word ‘n groot hoeveelheid van hierdie proteïen in die rumen afgebreek, terwyl die jong groeiende dier ʼn groot behoefte aan verbyvloeiproteïen vir spiergroei benodig. AFGRI Veevoere formuleer produkte met spesiaal geprosesseerde grondstowwe om verbyvloeiproteïen te verhoog, ’n kombinasie van energiebronne wat rumenfunksie komplimenteer en weidinginname stimuleer en maklik opneembare minerale en spoorminerale vir optimale diereproduksie.
  • Navorsing toon dat verteerbaarheid en inname van weiding onderdruk word wanneer energie  slegs deur stysel (grane) aangevul word. Die beste bronne van energie om te verhoed dat weidinginname onderdruk word (substitusievoeding) is in volgorde suiker soos in melasse, sellulose en hemi-sellulose soos in semels en dan grane. Om substitusievoeding te voorkom moet die aanvulling reg geformuleer wees en verkieslik nie meer as 15-20% van daaglikse DM inname uitmaak nie. Monitor inname van aanvulling voortdurend.
  • Beperk die dier se selektiewe weigewoonte deur drukbeweiding, of deur drakrag dieselfde te hou maar kampe te verklein en troppe homogeen te hou. Beter resultate word op monokultuur weidings (aangeplante weiding) verkry omdat selektiewe weiding uitgeskakel word. In die geval van aangeplante weiding kan elektriese drade gebruik word vir strookbeweiding of om kampe te verklein.
  • Met die aankoop van kalwers vir veldafronding is die genetiese vermoë waarskynlik onbekend. Kruiskalwers sal weens basterweelde beter resultate lewer as suiwer rasse. Navorsing toon egter dat ’n goed aangepaste suiwer ras ook goed presteer.
  • Dit is egter belangrik dat kalwers en lammers veral met die oog op afronding nie te lig moet wees wanneer op groen weiding geplaas word nie.
  • Mediumraam kalwers moet verkieslik 230kg + weeg.
  • Grootraam kalwers moet verkieslik 275kg + weeg.
  • Vroegryp rasse sal ook makliker vanaf weiding afgerond kan word as laatryp tipes.
  • ʼn Goeie praktyk is om kalwers wat in die herfs gespeen is te oorwinter op spaarveld (“long weaners”) en ʼn goeie proteïenaanvulling met die oog op veldafronding in die opvolgende somer.
  • Lammers moet verkieslik 28kg + weeg.
  • Beeste – Gras moet verkieslik 15-20cm lank wees en vreet tot 10cm.

Skape –  Gras moet verkieslik 15cm lank wees en vreet tot 8cm.

Klawer moet verkieslik 8cm lank wees en vreet tot 5cm.

  • Diere moet met ʼn geskikte oorinplantaat geïnplanteer word.
  • Diere moet behandel wees teen eksterne- en interne parasiete en geïmmuniseer word teen siektes van die streek.

voerprogram

Vroeg in die groeiseisoen is die aanvulling van 6-9g P deur van ʼn fosfaatlek en spoorelemente gewoonlik voldoende en ook kostedoeltreffend omdat die kwaliteit en kwantiteit van die weiding nog onvoldoende is om hoë groei te handhaaf. Dit gee ook kans dat die diere aan die aanvulling gewoond raak.

2              Sodra die weiding toeneem in kwaliteit en kwantiteit en kalwers ±500g/dag en lammers ±150g/dag toeneem moet ʼn gebalanseerde proteïen (hoë verbyvloeiproteïen)-, energie-, mineraal-, spoormineraal-, vitamien- en ionofoor aanvulling verskaf word om die weiding doeltreffend te benut en ʼn hoë groeitempo te handhaaf.

3 & 4      Veldkwaliteit neem in hierdie periode af, terwyl meer energie en veral uit stysel nou belangrik is indien die diere op die veld afgerond wil word.

  • Diere kan in die winter of in die voerkraal of op die veld verder gevoer word met vetmestingsdiëte vermeng met voerkraalkonsentrate.
  • Hierdie voerprogram kan dus ook baie effektief vir “backgrounding” of “preconditioning” van kalwers op groenweidings gebruik word.

Vir meer inligting, skryf aan [email protected].