Aanvullende Voeding in die Produksiefase Deel 1

Fosfaat- en Spoorminerale-aanvulling in die Produksiefase

Deur Dr. Heinri Spangenberg – Direkteur: Tegniese Verkope Afgri Veevoere

Die aanvulling van diere en spesifiek herkouers se voedingsbehoeftes op ‘n gegewe tyd van die jaar of tydens ‘n spesifieke produksiefase is ‘n uiters belangrike strategie in dierevoeding. Indien hierdie strategie optimaal en kundig toegepas word is die dividende betekenisvol. Dit is belangrik om die basiese reëls van lekaanvulling, in hierdie geval aanvulling vir produksie, na te kom. Oordeelkundige gebruik van lekke is ‘n baie kostedoeltreffende manier om om voedingstekorte op weidings aan te vul. Die keuse van ‘n lek hang af van weidingtipe, -kwaliteit, -kwantiteit, spesie, ras en fisiologiese stadium van diere. Die voedingswaarde van  veld is die vermoë daarvan om sinvolle diereproduksie te onderhou en is die resultaat van die chemiese samestelling, verteerbaarheid en vrywillige weidinginname van die dier per tydseenheid. Alhoewel kwaliteit belangrik is, is diereproduksie meer afhanklik van totale inname van verteerbare voedingstowwe. Daarom is dit voordelig en meer koste-effektief om diereproduksie met die beperkings van die natuur te sinchroniseer.

FOSFAATAANVULLING 

Fosfor (P) se rol in skeletale ontwikkeling en –samestelling is voor die hand liggend, maar P is ook betrokke by ‘n magdom fisiologiese prosesse in die liggaam, o.a. energiemetabolisme. ‘n Tekort aan P, veral tydens die aktiewe reproduksiefase lei tot aptytverlies, gewigverlies, melkverlies, lae speenmassa en uiteindelik word reproduksie ingeboet. So ‘n dier sou in die opvolgende jaar nie kalf nie, maar omdat sy droog is haar liggaamsreserwes aan P opbou in die beenmatriks, wat haar dan in staat stel om weer beset te raak. Dit is dus ‘n wipplank effek wat met reproduksie verkry word. P word hoofsaaklik in been gestoor en voortdurend gemobiliseer om in die dier se wisselende behoeftes te voorsien. Tydens ‘n P-tekort verdwyn meer P uit die been as wat weer vasgelê word. Dit is ook belangrik dat nie net P nie, maar ook Ca en Mg uit die been verdwyn tydens ‘n tekort. Hierdie minerale word geresorbeer uit die been en nie net P alleen geabsorbeer nie. Dit is dus duidelik dat ‘n P-tekort ‘n kettingreaksie van ander voedingstekorte en metabolies steurnisse kan veroorsaak.

Vele studies het al bewys dat weidende herkouers ‘n verhoging in liggaamsmassa toename op P-aanvulling toon, maar slegs tydens die periode van die jaar wanneer liggaamsmassa toeneem. Anders gestel die respons is slegs positief wanneer die kwaliteit van die weiding, interme van RP en energie baie goed is. Resultate toon ook dat waar P as die enigste droë seisoen of swak kwaliteit weiding aanvulling toegedien word, dit die velies aan ligaamsmassa versnel omdat dit die dieetwanbalans vergroot. Die beste respons word dus in die somer met P-aanvulling verkry omdat somerweiding meestal voldoende proteïen en energie bevat en P die beperkende nutriënt vir prestasie is. Die verhoogde prestasie is dan ook veral die gevolg van verhoogde weidinginname. Die aanvulling van P in die winter moet dus gepaard gaan met veral RP-aanvulling, omdat winterweiding arm aan RP is.

‘n 500 kg droë koei benodig daagliks 8.8 kg DM met 7% RP, 7.4 MJ ME/kg DM en 0.15% P. Die DMI op tipiese winterweiding oorskry egter selde 1.7% van ligaamsmassa en sou dus in hierdie geval ongeveer 8.5 kg wees. Dit is dus duidelik dat veldkwaliteit gedurende die winter (3-5% RP en 0.06% P), wat DMI en RP betref selfs nie in droë koeie se voedingsbehoefte kan voldoen nie. In hierdie geval kan P dus nie alleen aangevul word nie omdat RP die eerste beperking is. Die RP-tekort moet dus allereers aangespreek word voordat enige ander aanvulling oorweeg word.

Dieselfde koei wat ‘n kalf soog benodig 9.9 kg DM met 9.7% RP, 8.6 MJ ME/kg DM en 0.24% P. Somerweiding teen ‘n DMI van 2.2% van liggaamsmassa kan dus vir kort periodes in die RP en energiebehoefte van lakterende diere voorsien, maar hier is dit krities dat P aangevul moet word omdat dit die eerste beperking is (slegs 0.12% P in somerweiding). Nou is dit ook baie duidelik dat lakterende koeie ‘n ernstige tekort aan hierdie voedingstowwe in die winter of op swak weiding sal ondervind en waar RP, energie en P dus aangevul moet word.
it is dus duidelik dat daar ‘n groter behoefte vir P in die somer of tydens laat dragtigheid en laktasie is. Dit is ook duidelik dat selfs somerweiding nie dan in die dier se P-behoefte kan voorsien nie Dit word aanbeveel dat droë beeste 6g P/dag ontvang, laat dragtige verse en koeie en jong groeiende diere 9g/dag en lakterende koeie 12g/dag. Hierdie aanbeveling kan aangepas word vir uiterste P-gebrekkige gebiede soos die Vryburg omgewing waar 16g P/dag aanbeveel word vir laat dragtige en lakterende koeie en 9 g P/dag vir die res van die jaar.

AANVULLING VAN SPOORMINERALE IS BELANGRIK

Afgesien van proteïen en energie is die inname en absorbsie van voldoende hoeveelhede spoorminerale nodig vir die behoud van ‘n kudde se fertiliteit en ook om te verseker dat diere se immuunrespons en ensiemfunksies optimaal funksioneer om siektes die hoof te bied en maksimaal te produseer en reproduseer.

Mirale-Status

Marginale spoorminerale tekorte is ‘n groter probleem as akute tekorte omdat kliniese simptome afwesig is. Alhoewel diere steeds produseer en reproduseer is dit teen sub-optimale vlakke en gaan wins verlore. Uit die figuur is dit duidelik dat eerstens immuniteit en ensiemfunksie afneem, waarna maksimale en laastens normale groei en vrugbaarheid afneem voordat kliniese tekortsimptome sigbaar is by diere waarvan die spoormineraalstatus aan die afneem is. Die gebalanseerde aanvulling van spoorminerale is belangrik en moet kundig geformuleer word as gevolg van die vele antagonistiese interaksies tussen minerale. Roumateriale en veral water kan hoë vlakke van een of meer antagonistiese minerale bevat wat uiteindelik diereproduksie benadeel. Deeglike oorweging moet geskenk word aan die bronne van spoorminerale wat gebruik word vir aanvulling aangesien daar groot verskille is in die opneembaarheid van die verskillende bronne, ongeag anorganies of organies.

Sink, koper, mangaan en selenium is die vier mees belangrike spoorminerale betrokke by funksies wat essensieel vir optimum reproduksie is. ‘n Tekort aan een of meer van hierdie spoorminerale lei tot laat-bronstigheid, stilhittes, verlaagde konsepsie, onvrugbaarheid, ‘n afname in fetale ontwikkeling, vroeë embriosterftes, aborsies, probleme tydens kawing en die terughou van plasentas by koeie. By bulle word swak spermkwaliteit, spermtelling en’n lae libido vanweë‘n kleiner skrotum-omtrek veroorsaak.
Nog ‘n faktor wat die vrugbaarheid van bulle beïnvloed is beensterkte en die vermoë om van plek tot plek te beweeg. Sink, koper en mangaan is nodig vir die ontwikkeling en instandhouding van beide die skelet en die hoef-integriteit.

Afgri Veevoere se PROFOS en PROFOS Konsentraat produkte bied die ideale gebalanseerde P-aanvulling wat behalwe P ook in die dier se daaglikse spoormineraalbehoeftes voorsien. Daarbenewens bevat PROFOS en PROFOS Konsentraat ondeskeidelik 17% en 34% RP om die nodige RP te verskaf sou die weiding RP laer as 8 % daal, soos soms die geval met ‘n mid-somer droogte.

Vir meer inligting, skryf aan [email protected]

Aanvullende Voeding in die Produksiefase Deel II

Aanvullende Voeding in die Produksiefase

Deur Dr. Heinri Spangenberg – Direkteur: Tegniese Verkope AFGRI Veevoere

In teenstelling met onderhoudslekke wat slegs op winterveld of met swak kwaliteit ruvoer gebruik word en ten doel het om die dier te onderhou, word produksielekke vir verskillende produksiedoelwitte op ʼn verskeidenheid van veld- of ruvoertipes aangewend.

‘n Winsgewende alternatief tot voerkraalafronding is die korrekte aanwending van groen aangeplante-of natuurlike weiding vir groei en moontlike afronding van diere. Resultate met so ‘n stelsel is dikwels teleurstellend en daarom is dit belangrik om die dier se behoeftes en die weiding se beperkings met kundige bestuur en aanvullende voeding te versoen tot ‘n winsgewende praktyk.

Die voedingswaarde van natuurlike groen weidings is onvoldoende om in die voedingsbehoefte van jong groeiende diere te voorsien vir die doel van maksimale uitgroei en afronding. Produksielekke kan onder andere hier aangewend word om groenweidings maksimaal te benut deur jong groeiende diere ekonomies uit te groei en met die nodige aanpassing in die voedingstrategie ook af te rond. Soms is dit ook nodig om produksielekke vir lakterende koeie en ooie of jong groeiende diere op somer- of winterveld te voorsien, ten einde produksiedoelwitte te bereik. Produksielekke het dus ten doel om veral hoë kwaliteit verbyvloeiproteïen, energie, minerale en spoorminerale gebalanseerd te verskaf om weidingstekorte aan te vul ten opsigte van produksiedoelwitte.

WENKE EN DUIMREëLS VIR GROEI EN AFRONDING VAN BEESTE EN SKAPE OP GROENWEIDINGS

  • Goeie resultate kan slegs behaal word op goeie kwaliteit en kwantiteit groen aangeplante- of natuurlike weiding in die aktief-groeiende stadium. Kwaliteit en lengte van groeiseisoen van natuurlike weiding neem af van wes (soetveld) na oos (suurveld) oor SA. Dit impliseer dat beter prestasies met groei- en veral afronding op groen natuurlike weiding, in die soetveld areas van die land behaal sal word.
  • Afhangende van die streek en periode in die groeiseisoen is daar groot variasie in die voedingstof inhoud van natuurlike weiding, terwyl goed bemeste aangeplante weiding soos raaigras meer konstante en hoër voedingstofwaardes sal handhaaf. Normaalweg word 65-90% van die proteïen in groen weiding in die rumen afgebreek en is nie beskikbaar in die laer spysverteringskanaal nie. Sou die weiding wel in die proteïenbehoefte kon voorsien word ‘n groot hoeveelheid van hierdie proteïen in die rumen afgebreek, terwyl die jong groeiende dier ʼn groot behoefte aan verbyvloeiproteïen vir spiergroei benodig. AFGRI Veevoere formuleer produkte met spesiaal geprosesseerde grondstowwe om verbyvloeiproteïen te verhoog, ’n kombinasie van energiebronne wat rumenfunksie komplimenteer en weidinginname stimuleer en maklik opneembare minerale en spoorminerale vir optimale diereproduksie.
  • Navorsing toon dat verteerbaarheid en inname van weiding onderdruk word wanneer energie  slegs deur stysel (grane) aangevul word. Die beste bronne van energie om te verhoed dat weidinginname onderdruk word (substitusievoeding) is in volgorde suiker soos in melasse, sellulose en hemi-sellulose soos in semels en dan grane. Om substitusievoeding te voorkom moet die aanvulling reg geformuleer wees en verkieslik nie meer as 15-20% van daaglikse DM inname uitmaak nie. Monitor inname van aanvulling voortdurend.
  • Beperk die dier se selektiewe weigewoonte deur drukbeweiding, of deur drakrag dieselfde te hou maar kampe te verklein en troppe homogeen te hou. Beter resultate word op monokultuur weidings (aangeplante weiding) verkry omdat selektiewe weiding uitgeskakel word. In die geval van aangeplante weiding kan elektriese drade gebruik word vir strookbeweiding of om kampe te verklein.
  • Met die aankoop van kalwers vir veldafronding is die genetiese vermoë waarskynlik onbekend. Kruiskalwers sal weens basterweelde beter resultate lewer as suiwer rasse. Navorsing toon egter dat ’n goed aangepaste suiwer ras ook goed presteer.
  • Dit is egter belangrik dat kalwers en lammers veral met die oog op afronding nie te lig moet wees wanneer op groen weiding geplaas word nie.
  • Mediumraam kalwers moet verkieslik 230kg + weeg.
  • Grootraam kalwers moet verkieslik 275kg + weeg.
  • Vroegryp rasse sal ook makliker vanaf weiding afgerond kan word as laatryp tipes.
  • ʼn Goeie praktyk is om kalwers wat in die herfs gespeen is te oorwinter op spaarveld (“long weaners”) en ʼn goeie proteïenaanvulling met die oog op veldafronding in die opvolgende somer.
  • Lammers moet verkieslik 28kg + weeg.
  • Beeste – Gras moet verkieslik 15-20cm lank wees en vreet tot 10cm.

Skape –  Gras moet verkieslik 15cm lank wees en vreet tot 8cm.

Klawer moet verkieslik 8cm lank wees en vreet tot 5cm.

  • Diere moet met ʼn geskikte oorinplantaat geïnplanteer word.
  • Diere moet behandel wees teen eksterne- en interne parasiete en geïmmuniseer word teen siektes van die streek.

voerprogram

Vroeg in die groeiseisoen is die aanvulling van 6-9g P deur van ʼn fosfaatlek en spoorelemente gewoonlik voldoende en ook kostedoeltreffend omdat die kwaliteit en kwantiteit van die weiding nog onvoldoende is om hoë groei te handhaaf. Dit gee ook kans dat die diere aan die aanvulling gewoond raak.

2              Sodra die weiding toeneem in kwaliteit en kwantiteit en kalwers ±500g/dag en lammers ±150g/dag toeneem moet ʼn gebalanseerde proteïen (hoë verbyvloeiproteïen)-, energie-, mineraal-, spoormineraal-, vitamien- en ionofoor aanvulling verskaf word om die weiding doeltreffend te benut en ʼn hoë groeitempo te handhaaf.

3 & 4      Veldkwaliteit neem in hierdie periode af, terwyl meer energie en veral uit stysel nou belangrik is indien die diere op die veld afgerond wil word.

  • Diere kan in die winter of in die voerkraal of op die veld verder gevoer word met vetmestingsdiëte vermeng met voerkraalkonsentrate.
  • Hierdie voerprogram kan dus ook baie effektief vir “backgrounding” of “preconditioning” van kalwers op groenweidings gebruik word.

Vir meer inligting, skryf aan [email protected]

 

Foot and Mouth Disease and Market Access

Foot-and-mouth disease and market access:
challenges for the beef
industry in southern Africa

Ian Scoones
William Wolmer

Download the Food and Mouth Disease and Market Access article here