Voerkripbestuur beïnvloed winsgewendheid van ʼn voerkraal

deur DC Cloete, AFGRI Veevoere Tegniese Adviseur

 

Die bestuur van voerkrippe word dikwels nagelaat en met hoë voer- en speenkalfpryse kan die winsgewendheid van ʼn voerkraal vinnig in gedrang kom. Deeglike voerkripbestuur kan die silwer randjie om dié wolk wees.

Voerkripbestuur is ʼn kardinale deel van die doeltreffendheid van die onderneming. Voervermorsing is nie die enigste verlies wat hiermee beperk kan word nie, maar navorsing beklemtoon die positiewe effek wat goeie kripbestuur op prestasie (Gemiddelde Daaglikse Toename & Voer Omset Verhouding), konstante vreet patrone en voorkoming van verteringsteurnisse, bv. Asidose, het.

Dit bly egter steeds belangrik om te onthou dat voerkraalbeeste herkouers is. Die rumen is ‘n fermentasie vat met ʼn komplekse samestelling van mikro-organismes wat konstant gehou moet word. Die mikrobiese samestelling verander wel met verandering van hoë vesel na hoë graan diëte. Hierdie aanpassing moet baie goed bestuur word om rumen gesondheid en prestasie te bevorder.

Met goeie kripbestuur word beoog om die kwantiteit voer wat beskikbaar gestel word te laat ooreenstem met die kwantiteit wat die dier op ʼn spesifieke oomblik kan hanteer. Dit beteken dat die rantsoen konstant voorberei word in konstante hoeveelhede en op konstante tye gevoer word. Konstante voedingpraktyke verlaag variasie in inname en is gunstig vir optimale rumen fermentasie. Beeste leer gou roetine aan en kan hierdie dierlike eienskap benut word om goeie vreet gewoontes by diere aan te leer. Die effektiwiteit van hierdie beginsel word baseer op groep gemiddelde. Dit is dus belangrik om goeie rekord van daaglikse innames te hou.

Faktore wat ʼn invloed op voerinname het is:

  • Ruvoertipe en snylengte
  • Konsentraat samestelling en rou-materiaal prosessering
  • Vog, stof, reuk en tekstuur van die rantsoen
  • Omgewingsfaktore soos wind, reën en weer
  • Groepering van diere en roetine
  • Voer frekwensie

Voerkraal diere het deurlopend toegang tot voer nodig in ʼn poging om maksimum innames te handhaaf. Die praktyk staan bekend as ad libitum voeding. Met ad lib voeding is die fokus met kripbestuur hoofsaaklik op krip higiëne, deur die hoeveelheid voer gelewer, op ‘n daaglikse basis aan te pas. Voer moet meer of minder gemaak word sodat daar nie te veel of te min voer in die voerkrip oorbly nie. Om die praktyk suksesvol te implementeer moet goeie rekordhouding gedoen word. Dit is raadsaam om voerkrippe dus daagliks te evalueer deur ʼn puntestelsel te implementeer.

 

Voerkrip punte stelsel

Telling Beskrywing
0 Geen voer in krip
1 Bietjie voer en meestal onder in krip
2 Dun laag voer, eweredig versprei in krip
3 25-50 % van die vorige voeding se voer in krip
4 >50 % van die vorige voeding se voer nog in krip
5 Voer nog nie aangeraak nie

Deur so ʼn puntestelsel met voerkripbestuur te gebruik sal daar gou uitgewys kan word wanneer daar ʼn fout sou opduik.

Krip evaluering en aanpassings moet verkieslik daagliks gedoen word. ‘N punte telling van 1, verkieslik op die middag wanneer innames elkgeval op die laagste is, is ideaal. In praktyk wil ons dus hê dat krippe dus een maal op ‘n dag, op die middag, “skoon” gevreet is. Wanneer ʼn aanpassing nodig is moet dit verkieslik nie te groot hoeveelhede op ʼn keer wees nie.

Daar is verskeie faktore, veral die droëmateriaal inhoud van kuilvoere, wat voerinname beïnvloed en die bestuur daarvan is krities. Die dier benodig ʼn sekere hoeveelheid nutriënte vir onderhoud. Eers wanneer daar aan die onderhouds behoefte voldoen is sal “oortollige” nutriënte vir produksie of groei gebruik word. Verhoogte inname lei dus tot hoër en doeltreffende groei. Daarom is dit belangrik om ʼn vars en smaaklike dieet 24-uur van die dag beskikbaar te stel.

Wanneer ʼn skoonkripstelsel gevolg word is dit belangrik dat twee of meer voedings per dag (op dieselfde tyd) gevoer word. Beeste antisipeer voedings en skoon vreet na elke voeding word aangemoedig. Voerkrippe kan 30 tot 60min skoon staan, maar daar moet voer beskikbaar wees voordat diere rusteloos raak. Genoeg vreetspasie is ʼn vereiste.

Swak bestuurde volkripstelsels het dikwels gemufde ou voer en baie fyn partikels wat metaboliese versteurings tot gevolg kan hê. Oortollige skoonmaak van krippe lei dan tot voervermorsing.

Opsommend:

  • Goeie kripbestuur verhoog voer innames, daaglikse gewigstoenames en verbeter voeromset.
  • Verlaag variasie, skep ʼn konstante rumen omgewing en verbeter sodoende rumengesondheid.
  • Verseker konstante vars, voedsame en korrekte kwantiteit voer word op die regte tyd gelewer.
  • Beperk voer vermorsing tot die minimum.
  • Verseker innames word deeglik gemonitor sodat probleme wat voerkwaliteit of lae innames behels vinnig aangespreek kan word.