Proteïene: Kwaliteit en Bronne

Leon Botha AFGRI Veevoere.

 

Produkte word maklik vergelyk op prys wanneer die sakkaartjie waardes van ru-proteïen dieselfde is. Tog is hierdie ʼn baie breë term wat ons nie veel oor die produk se kwaliteit of verwagte produksie inlig nie. Wanneer proteïen bronne oorweeg word is dit belangrik om aspekte soos ouderdom van dier, produksiestadium, hoeveelheid stikstof afkomstig vanaf ureum of natuurlike proteïene, verteerbaarheid en verbyvloei fraksies te oorweeg. Want hierdie faktore speel almal ʼn rol in winsgewendheid van produksie, en is belangrik om in ag te neem vir hoë proteïen konsentraat (HPK), lekke en die totale gemengde rantsoen (TGR).

 

Die term ru-proteïen (CP) wat alom bekend is, word opgebreek in 5 fraksies (Fig.1). Wat belangrik is om te weet van die proteïene bron 1.) die totale nie-proteïen-stikstof (NPN) en 2.) die essensiële aminosure beskikbaar in die rumen en laer spysvertering stelsel, want hierdie is wat uiteindelik vir jou ʼn aanduiding kan gee of die behoeftes bevredig word om die verlangde produksie doelwit te bereik.

 

Proteïen in Voerkrale:

Kalwers gebruik mikrobiese proteïen en aminosure as boustene vir groei. Mikrobes in die rumen omskep die fermenteerbare komponente in die rantsoen na energie (vetsure) en mikrobe proteïen. Die eerste doelwit bly altyd om rumen mikrobe proteïen sintese te dryf vir optimum rumen funksie. Die produksie van mikrobe proteïen alleen is egter nie voldoende om hoë vlakke van produksie of versnelde groei te onderhou nie. Dit is waar die verbyvloei fraksies van proteïne belangrik raak. In die lae spysvertering kan hierdie verbyvloei proteïen opgeneem word as aanvulling van mikrobe proteïen om maksimale produksie uit kalwers te verkry.

 

Die proteïen behoefte vir groei is afhanklik van groei tempo en die proteïen inhoud van groei (gewigstoename). Aan die begin van die voerperiode bevat gewigstoename relatief baie proteïen en raak dit later in die voerperiode minder (soos neerlegging van vet toeneem) Fig.2. Dus, voordat ons kalwers in voerkraal begin voer, moet ons weet watter graad karkas ons wil bemark aan die einde (480kg/ 500kg/ 520kg). Hierdie beginsel sal maak dat ons anders kyk na die “backgrounding”, aanvangs en groei rantsoene wat meer fokus op raam groei en spier neerlegging teenoor die afrond fase wat laer is in ru-proteïen en meer energie.

 

Wanneer proteïen bronne soos soja-, katoen- en sonneblom-oliekoek as proteïne bron oorweeg word, raadpleeg jou voedingkundige eerder oor die verskille in voer omset verhouding van die verskillende bronne, die rand per kilogram massa toename (R/kg massatoename) en uitslag persentasie verskille tussen proteïen bronne. Hierdie sal daarop dui dat meer betaal kan word vir ʼn beter proteïen bron/ton om ten einde meer winsgewend te wees.

 

AFGRI Veevoere bied ʼn alternatief met Aminomax verbyvloeiproteïen tegnologie, wat die verbyvloei fraksie van oliekoeke verhoog deur ʼn streng gekontroleerde ensimaties proses en hitte. Wat uiteindelik verbyvloei verhoog, verteerbaarheid verbeter en produksie dryf deur n goeie aminosuur profiel.

 

Proteïen Bronne in Winterlekke:

Proteïenlekke word as aanvulling gebruik wanneer lae verteerbare weiding (stoppellande, strooi en droë veld) beskikbaar is. Dit is hier waar daar onderskeid getref moet word tussen proteïenlekke wat hoofsaaklik ureum bevat en lekke wat meer natuurlike proteïene, dus meer deurvloei proteïene bevat. Hierdie hoër deurvloei fraksie kan die mikrobe proteïen en aminosuur behoefte in die laer spysvertering aanvul. Proteïenlekke met minder ureum en meer natuurlike proteïen is veral geskik vir jonger groeiende diere en wolskape op droë weiding. Selfs as stoppellande met baie pitte en groen opslag bewei word is proteïenlekke met hoër verbyvloeiproteïen meer van waarde, aangesien ammoniak-N konsentrasie voldoende sal wees vir rumen mikrobes, en verbyvloeiproteïen die tekort aan mikrobe proteïen sal aan spreek.

 

Probeer weg beweeg vanaf die rand per persentasie ru-proteïene (R/%CP) op sakkaartjie wanneer proteïen bronne oorweeg word. Oorweeg eerder die kwaliteit, verteerbaarheid en aminosuur profiel van bron, want dit sal ʼn effek toon op uitslagpersentasie, voer omset verhouding, gemiddelde daaglikse toename en uiteindelik winsgewendheid.

 

Figuur 1:

 

Figuur 2:

 

 

 

DIE BELANGRIKHEID VAN FOSFAAT AANVULLING OP GROEN WEIDINGS

Andries Kruger, Tegniese Adviseur AFGRI Veevoere

Fosfaat aanvulling op groen somerweidings is ‘n konsep wat al vir baie jare lank beproef, nagevors en bewys is, maar tog word die erns van fosfaat aanvulling steeds nie genoeg beklemtoon nie. Wanneer dit by die weidende dier kom, word fosfor as die ekonomies belangrikste mineraal in Suid-Afrika beskou, vergeleke met ander spoorelement tekorte soos sink, selenium, mangaan en koper.

 

Fosfaat tekorte affekteer herkouers – veral beeste – die meeste en is dus krities belangrik vir herkouers. Fosfaat aanvulling behoort dus algemene praktyk te wees vir enige veeboer.

 

Wanneer word fosfaat aanvulling gegee?

‘n Tekort aan fosfaat kom in meeste dele van Suid-Afrika se weidings voor en word hoofsaaklik aangevul deur ‘n lek in die somerseisoen, wanneer die weidings in hul aktiewe groeistadium verkeer. Die meeste grondtipes in Suid-Afrika voorsien nie genoegsame fosfaat aan die plant nie en die fosfaat wat deur die weiding aan die dier verskaf word is gevolglik onvoldoende. Daarom is dit belangrik vir fosfaat aanvulling op groen weidings, veral aan laat-dragtige en lakterende diere.

 

Gedurende die somer is die beskikbare energie en ru-proteïen in die weidings voldoende, wat fosfaat aanvulling meer suksesvol maak. Fosfaat aanvulling kan egter tydens die droër wintermaande, wanneer die weidingskwaliteit baie afneem en die energie en ru-proteïen beperk is, nadelige gevolge, soos gewigsverlies, hê. Dit is belangrik dat indien fosfaat in die winter as byvoeding gegee word, dit met ‘n goeie ru-proteïen aanvulling gepaardgaan.

 

Hoeveelheid fosfaat per dag

Die doel van enige vorm van byvoeding is om die verskil tussen die dier se behoeftes en dit wat die dier uit die weiding kan kry te verskaf. Herkouers se behoefte aan fosfaat word bepaal deur die dier se fisiologiese status, die tipe dier en die fosfaat tekort in die beskikbare weiding. Die voorgeskrewe inname van fosfaat per bees per dag is soos volg: 6 g vir droë beeste, 9 g vir laat-dragtige diere en 12 g vir lakterende diere. Indien ‘n area uiters fosfor-arm is, moet die hoeveelheid met 3 tot 4 gram fosfaat per bees per dag verhoog word.

 

Die biologiese belang van fosfor in die liggaam

Fosfaat is by baie metaboliese en strukturele prosesse in die liggaam van die dier betrokke en verrig belangrike funksies, veral wanneer dit kom by energiemetabolisme.

 

Fosfaat speel dus ‘n belangrike rol in die omskakeling van weidingsenergie na energie wat bruikbaar is vir die dier se liggaamsfunksies. Fosfaat verrig onder meer funksies soos die regulering van die pH-balans in die liggaam, osmotiese druk, eierselontwikkeling (wat vrugbaarheid beïnvloed) en skeletontwikkeling. Dit speel ook ‘n groot rol in seldifferensiasie en groei. Die vervoersisteme van baie verbindings deur die wande van selle word ook deur fosfaat bepaal.

 

Die meeste fosfaat (80%) kom voor in die beenstruktuur, waar dit as fosfor reservoir dien, tesame met kalsium en magnesium. Daar is ‘n voortdurende opname en mobilisering van fosfaat en kalsium vanuit die beenstruktuur, veral by dragtige en lakterende diere, om in hulle behoeftes te voorsien. Wanneer daar ‘n tekort aan fosfaat is, word die reserwes gemobiliseer en meer fosfaat verdwyn uit die skelet as wat weer opgeneem en gestoor word. Sodra fosfaat vanuit die been geabsorbeer word, word kalsium en magnesium ook gemobiliseer, wat ‘n teken is dat fosfaat ‘n beduidende effek op ander minerale en steurnisse kan hê, veral wanneer daar ‘n tekort is.

 

Daar bestaan ‘n noue band tussen fosfaat, kalsium en vitamien D, omdat al drie ‘n regstreekse invloed het op die fosfor metabolisme prosesse van die liggaam. Dit is dus baie belangrik dat die Ca: P-verhouding reg moet wees (2:1), sowel as die vlakke waarteen vitamien D teenwoordig is. Indien een of die ander nie in balans is of teenwoordig is nie, sal die metaboliese prosesse nie optimaal kan voortgaan nie en die gevolg is dat die steurnisse of tekorte net sal vererger.

 

Die teenwoordigheid van hoë vlakke van ander minerale kan ook ‘n nadelige invloed op fosfaat absorpsie hê. Wanneer kalsium, natrium, yster, aluminium of molibdeen in hoë konsentrasies in die drinkwater of grond voorkom, kan dit sekondêre fosfaat tekorte veroorsaak, omdat dit komplekse vorm wat fosfaat opnames ontoeganklik maak in beeste.

 

Simptome van P tekort:

Kliniese P tekort Subkliniese P tekort
·       Pika

·       Dowwe haarkleed

·       Ragitis

·       Abnormale skeletontwikkeling

·       Lusteloosheid

·       Vermaering

·       Aptyt verlies

·       Stywe gewrigte

·       Omkrul kloue

·       Verlaagde vrugbaarheid

·       Ongereelde hittesiklusse

·       Verlaagde weidings inname

·       Verswakte voeromsetvermoë

·       Verlies in melk produksie

·       Swakker speenmassas

·       Onderdrukte immuniteit

 

Ekonomiese rol van fosfaat aanvulling

Fosfaat aanvulling speel nie net ‘n belangrike rol in die gesondheid van ‘n dier nie, maar hou enorme ekonomiese voordele vir die veeboer in. Daar word dikwels opgemerk dat fosfaat aanvulling te duur is, maar die feite spreek duidelik genoeg dat dit jou duurder te staan gaan kom indien jy nie fosfaat as byvoeding vir jou beeste gee nie. Die voordele soos verhoogde  kalfpersentasie (reproduksie), speenmassas, melkproduksie, besetting en groei, is hoofsaaklik as gevolg van verhoogde  weidingsinname, wat deur fosfaat aanvulling gestimuleer word.

 

‘n Berekening is gemaak uit sestien proewe, om die gemiddelde kalfpersentasiesyfers te bepaal van koeie wat fosfaat aanvulling gekry het, teenoor die kontrolegroepe wat geen fosfaat aanvulling gekry het nie. Die syfers stem ooreen met dié van Read (1984) waar koeie wat fosfaat aanvulling ontvang het ‘n kalfpersentasie van 80% gehad het en koeie sonder enige fosfaat aanvulling ‘n syfer van 51% behaal het. Read et al. (1986) het bevind dat speenmassas ook 27% hoër was by diere wat fosfaat  aanvulling ontvang het. Deur net na hierdie paar syfers te kyk, kan mens klaar die ekonomiese effek van fosfaat sien.

 

Fosfaatlekke

Van alle lekke het fosfaatlekke die grootste ekonomiese impak tot gevolg. Daar bestaan ‘n magdom fosfaatbronne in die mark wat voorgestel word vir fosfaat aanvulling vir beeste, hetsy klaarvervaardigde produkte, of konsentrate vir boere wat self lekke meng. Dit is krities belangrik dat veeboere verstaan dat fosfaatbronne se gehalte, biologiese geskiktheid en opneembaarheid baie kan verskil. Die produsent moet daarop ingestel wees om die beste gehalte fosfaatbronne te koop by geakkrediteerde instansies, wat die fosfaat- en kalsiumgehalte waarborg.

AFGRI Veevoere se fosfaat aanvulling PROFOS P6 is ‘n klaar gemengde fosfaat-soutspoorelementaanvulling vir herkouers op groen weidings, wat alle noodsaaklike spoorminerale in die regte verhouding bevat. Dit bevat ook 17% proteïen wat met die rumenfunksie, veral in mid-somerdroogtes help.

 

Aanbevole inname vir PROFOS P6

Dier gram/dier/dag

Beeste 150 – 240 g/dag
Jong, groeiende diere 100 – 120 g/dag
Lakterende diere 200 – 240 g/dag
Droë koeie 150 – 200 g/dag
Skape 17 – 40 g/dag
Lammers 15 – 18 g/dag
Lakterende ooie 25 – 40 g/dag
Droë ooie 20 – 30 g/dag

 

 

Daar is ook ‘n PROFOS-konsentraat wat vir selfmengdoeleindes gebruik kan word, maar die konsentraat moet slegs teen die streng aanbevole aanwysings van ‘n AFGRI-tegnikus gemeng word.

 

Om op te som: Elke veeboerderypraktyk in Suid-Afrika behoort ‘n mate van fosfaat aanvulling te gee. Die ekonomiese impak wat fosfaat aanvulling veral op beeste het, is te groot om te ignoreer. Om ‘n vee-komponent uit te brei is grond al meer die  beperkende faktor en daar word meer en meer na vertikale groei gekyk. Dit kan met ‘n klein aanpassing soos fosfaat aanvulling bereik word.

 

 

 

 

 

 

 

 

Bio-sekuriteit op die melkplaas

Deur Anton Gresse AFGRI Veevoere

Die Covid-19 virus het die mensdom die laaste paar maande bewus gemaak van die effek wat ‘n patogeen op ons samelewing kan afdwing. Dit was ook skrikwekkend hoe min beheer ons het oor die tempo van infeksie en mortaliteit. Ons almal moes leer wat behels bio-sekuriteit en hoe om dit toe te pas. In die veebedryf word boere elke dag uitgedaag deur verskeie patogene, byvoorbeeld die bek-en-klou-seer epidemie wat ‘n ontnugtering vir baie was. Boere het die finansiële effek ongelukkig gevoel met die verbod op veilings en uitvoere. Ek glo dit is dus duidelik dat dit nodig is om respek te toon vir die skadelike mikrobes wat in ons omgewing voorkom.

Hoe versprei ‘n patogeen

Om bio-sekuriteit op ‘n melkplaas effektief te bestuur is dit belangrik om te verstaan hoe ‘n patogeen vanaf ‘n dier wat besmet is na ‘n gesonde dier oorgedra word. Daar is 5 primêre verspreidingsroetes vir patogene, naamlik:

  • Die lugweg, mikrobes word oorgedra in vogdruppels van ‘n nies of hoes.
  • Oraal, die dier vreet voer wat besmet is of kou/lek besmette voorwerpe.
  • Vel, wonde wat oop is word besmet.
  • Reproduksie, gedurende dekking of infeksie van die fetus in utero.
  • Bloed, die dier word gebyt deur ‘n insek wat die patogeen versprei of ‘n besmette voorwerp soos ‘n naald of neustang wat die vel breek.

 

Sommige patogene versprei deur slegs een roete terwyl ander ‘n kombinasie van die bogenoemde roetes kan gebruik. Die tabel hier onder wys van die algemene siektes en die roete van verspreiding. Dit illustreer hoe maklik ‘n siekte tussen diere en tussen kuddes oorgedra kan word indien die nodige bestuurspraktyke nie in plek is nie.

Algemene siektes by melkbeeste (aangepas uit Jordan et al., 2016)

Siekte Roete van verspreiding Patogeen
Anthrax/Miltsiekete Oraal Bakterieë
Brucellose Oraal, Reproduksie Bakterieë
Bees leukaemia virus Bloed, Reproduksie Virus
Bees paratuberkulose (Johne se siekte) Oraal, Reproduksie Bakterieë
Bees tuberkulose Lugweg Bakterieë
Bees virus diarree (BVD) Lugweg, Reproduksie Virus
Coronavirus enteritis Lugweg Virus
Kriptosporidiose Lugweg Protozoa
Besmetlike bees rinotrageïtis (IBR) Lugweg, Reproduksie Virus
Leptospirose Vel, Oraal, Lugweg, Reproduksie Bakteria
Neospirose Oraal, Reproduksie Protozoa
Parainfluenza-3 virus (PI3) Lugweg Virus
Klem-in-die-kaak Vel, Bloed Virus
Selmonellose Lugweg Bakterieë

 

Bekamp ‘n patogeen só

Die mees doeltreffende meganisme vir die voorkoming van siektes is om kudde immuniteit op te bou en te onderhou. Dit begin met die passiewe immuniteit wat aan die kalf oorgedra word in die biesmelk kort na geboorte. Immuniteit word verder onderhou deur ‘n volledige inentingsprogram wat stiptelik gevolg moet word. Die dier se immuunstelsel bou ‘n “geheue” as dit blootgestel word aan die biologiese produk in ‘n entstof. Dit bewerkstellig ‘n vinnig en doelgerigte reaksie teen die patogeen/siekte sodra die dier met dit besmet word, wat die simptome en die negatiewe effek op produksie minimaal hou. Diere moet gehalte voeding ontvang wat die nodige energie, aminosure, vitamiene, makro en spoorminerale voorsien vir die immuunreaksie teen ‘n patogeen.

Dit is van kardinale belang om siek diere so gou moontlik te identifiseer, asook die patogeen/siekte wat die simptome veroorsaak. Dié diere moet dan in kwarantyn geplaas word tot hulle herstel. Karkasse van diere wat vrek moet ook op ‘n veilige manier verwyder en vernietig word. Beweging vanaf die siek kamp (en karkasse) moet gereguleer word om te keer dat patogene deur die omgewing versprei. Alhoewel dit stremming op bestuur plaas, sal dit goed wees om ontsmetting-stasies op die been te sit, veral by die kalwers.

Streng maatreëls rakende besoekers, voertuie en aangekoopte diere wat van buite af kom moet op die plaas toegepas word. Daar moet ‘n vaste roete wees vir die vragmotor wat voer aflaai of melk kom haal asook konsultante, veeartse en selfs familie wat kom kuier. Onnodige beweging op die plaas moet vermy word. Aangekoopte diere moet in kwarantyn gehou word vir minstens 14 dae en indien hulle gesond bly kan hulle by die res van die kudde aansluit. Dit is belangrik om ‘n volledige inentingsverslag van aangekoopte diere te ontvang. Só kan jy verseker dat nuwe diere effektief in skakel by die plaas se gesondheidsprogram.

Ter afsluiting

Voorkoming is baie goedkoper as behandeling wanneer dit kom by veesiektes. Indien daar onsekerheid is oor ‘n effektiewe bio-sekuriteitprogram op jou melkplaas, nader jou veearts of klop aan by jou buurman om só ‘n program te bespreek. Ons melkboere moet daagliks verskeie uitdagings oorkom en ek vertrou dat dieregesondheid (en mensgesondheid) net nog een sal wees wat suksesvol bestuur word.

 

Perspektief op Hipokalsemie en Melkkoors

– Bekamp Melkkoors vir Winsgewende Melkboerdery –

Inleiding

Die voeding en bestuur van suiwelkoeie tydens die oorgangsfase (21 dae voor tot 21 dae na kalf) het in die afgelope jare baie aandag geniet. Dit is met reg so omdat probleme tydens hierdie fase die wins van ‘n koei vir die spesifieke laktasie totaal kan erodeer. Die belangrikste abnormaliteite soos distokia, metritis, vassit van nageboorte, melkkoors, ketose, verplaasde abomasum en lamheid is interverwant en min melkkoeie kalf sonder gesondheidsprobleme. Die feit dat hierdie abnormaliteite interverwant is noop suiwelboere om te fokus op die totale bestuur en voeding van die oorgangsfase eerder as om op enkele probleme te konsentreer.

Melkkoeie se genetiese vordering is hoofsaaklik in melkproduksie gesetel en baie vinnig na kalwing word veelvoudig meer melk as die behoefte van die pasgebore kalf geproduseer. Daardeur ontstaan ‘n unieke fisiologiese toestand waar ‘n groot hoeveelheid kalsium (Ca) skielik uit die bloed opgeneem word en daarom ondervind meeste melkkoeie ‘n sekere graad van hipokalsemie en wat omgeskakel kan word in wat ons ken as kliniese melkkoors. Vleisbeeskoeie kan die toestand egter beter hanteer omdat die Ca behoefte veel laer is as by melkkoeie, weens ‘n veel laer melkproduksie.

article

Hipokalsemie en Melkkoors

Melkkoors is nie ‘n voedingkundige Ca tekort nie. Dit is ‘n toestand wat rondom kalwing ontstaan en nie in latere laktasie volhou word wanneer Ca verlies in melk selfs nog groter is as wat die dieet voorsien nie, soos byvoorbeeld tydens pieklaktasie. Melkkkoors is dus ‘n nie-voedingkundige, nie-degeneratiewe produksie siekte en word gekenmerk deur hipokalsemie tydens geboorte weens die skielike verhoogde Ca behoefte en ‘n vertraging in die aanpassing van ‘n vereiste verhoogde Ca metabolisme. Melkkoors word dus veroorsaak deur ‘n te stadige spoed in metaboliese aanpassing en nie deur ‘n tekort wat geskep word deur die behoefte van die koei en wat in die dieet voorsien word nie.

Serum Ca word hormonaal beheer deur onder andere parathormoon (PTH) en 1,25-dihidroksivitamien D (kalsitriol). Hierdie hormone is betrokke by renale Ca re-absorbsie, intestinale Ca transepiteleale vervoer en Ca omset in die skelet. PTH speel ‘n belangrike rol in korttermyn Ca balans deur opname en uitskeiding deur die niere te beheer. Renale Ca uitskeiding is egter klein (1g/dag) en kan nog kleiner wees of baie groter afhangende die Ca status en die PTH sein. Dit is dus net van waarde tydens hiperkalsemie en nie tydens hipokalsemie soos wat met kalwing ondervind word nie. Die proses waar kalsitriol intestinale Ca absorbsie beheer kan wel groot hoeveelhede Ca verskaf tydens tekorte, maar die proses kan tot 48 dae neem om effektief te wees. Been is egter ‘n groot bron van Ca (10kg) en kan dus ontgin word om ernstige Ca tekort periodes, soos tydens kalwing, op te hef. Die maklik beskikbare Ca in die skelet is egter klein, maar kalsitriol is die sneller om groot hoeveelhede Ca uit die been te mobiliseer indien die PTH sein nie verdwyn nie, m.a.w. die tekort sein moet aan wees. In die eerste paar maande van laktasie word tot 1kg Ca uit die beenmatriks gemobiliseer om in die Ca behoefte te voldoen.

Serum Ca vlakke onder 8mg/dl en 7.6mg/dl kan onderskeidelik as sub-klinies en kliniese melkkoors beskou word, maar is nie noodwendig altyd gekorrelleer met kliniese simptome nie. Verse is beslis minder vatbaar vir hipokalsemie en soos koeie ouer word, met meer laktasies, neem die vatbaarheid met ongeveer 9% per laktasie toe. Hierdie is nie noodwendig ‘n degeneratiewe toestand nie. Die verband tussen pariteit (laktasies) en melkkoors insidensie kan eerder verklaar word deur verhoogde melkproduksie, verlaagde DMI in die oorgangsfase (gewoonlik by oorvet koeie) en ander metabolise steurnisse.

Voorkoming van melkkoors

In die verlede is vele dinge en middels probeer om melkkoors te beheer onder andere verhoogde vitamien D vlakke, veranderinge op Ca:P verhouding, ‘n lae Ca dieet, orale toediening met Ca preparate en nog meer. Vandag is die voorkoming eerder multi faktoriaal en geïntegreer in ‘n oorgangsfase voeding- en bestuurstrategie om melkkoors EN ander metaboliese probleme te bekamp. Strategieë om melkkoors te bekamp fokus gewoonlik om Ca metabolisme aan te pas deur Ca balans weke voor kalwing “aan te wakker”. Dit kan gedoen word deur of die Ca voeding te verlaag of deur ‘n lae dieet katioon anioon balans om hiperkalsinurie (Ca uitskeiding deur die niere) te bewerkstellig. Orale toediening van Ca kan hier ook komplimenterend wees, terwyl binne-aarse toediening van Ca preparate nadelig kan wees. Dit is ook belangrik dat ander makrominerale, asook die energie en proteïen pakket in die dieet aandag moet kry om melkkoors effektief teen te werk.

Lae Ca dieet

Indien Ca inname verlaag kan word tot minder as 20g per dag is dit ‘n opsie om melkkoors te verhoed. Die probleem is dat dit nie altyd moontlik is nie en sal afhang van watter roumateriale gebruik word in die opstoomdieet. Konsentrate is gewoonlik laag in Ca terwyl ruvoere hoë waardes het en dit is nie heeltemal versoenbaar met ‘n opstoomdieet waar beperkende energie en hoër ruvoervlakke gevoer word nie. Sekere ruvoere soos mieliekuilvoer en strooie is laag in Ca, maar strooi beperk weer DMI. Groen grasse en lusern moet liewer vermy word, omdat dit betreklik hoog in Ca inhoud is.

Ca antagoniste

Zeoliet kleie is ook al ingespan om Ca beskikbaarheid voor kalwing te beperk, maar veroorsaak ook ‘n laer DMI en bloedvlakke van magnesium (Mg) en fosfor (P). Rumenbeskermde fitiensuur is egter effektief om Ca beskikbaarheid te beperk. Ryssemels is hoog in fitiensuur maar word in die rumen afgebreek en moet dus deur spesiale prosessering beskerm word om effektief te wees.

article2

Negatiewe katioon anioon balans

Die mees algemene en effektiewe manier om melkkoors te verhoed is deur ‘n matige metaboliese asidose te skep deur die DKAB balans te modifiseer. Dit word gedoen deur minerale soos Cl- en S2- in verbindings te gebruik wat anioonsoute genoem word en so min moontlik Na+ en K+, genoem katione. Die balans word en milli-ekwivalente bereken deur die som van Na en K minus die som van Cl en S. ‘n Hoë DKAB is gewoonlik te wyte aan hoë K wat ook dan indirek verantwoordelik is vir melkkoors weens sy negatiewe impak op Mg opname. Anioonsoute is effektief wanneer ‘n DKAB van -50 tot -150 mEkw/kg DM bereik word, metaboliese asidose inskop, die uriene versuur en Ca uitskeiding in uriene verhoog. Dit verseker dat PTH en kalsitriol afgeskei word en Ca uit die been gemobiliseer word om sodoende melkkoors insidensie te verlaag. Uriene pH kan effektief as indikator van hipokasemie gebruik word en is hoogs gekorrelleerd met uriene Ca. Die proteien wat die tempo van aktiewe transport en dus opname van Ca in die niere bepaal is baie pH sensitief en aktiwiteit halveer teen lae fisiologiese pH, wat verhoogde utskeiding van Ca in die uriene tot gevolg het. Die mikpunt is uriene pH van 6-6.5 vir Holstein koeie en 5.8-6.2 vir Jersey koeie.

Anioonsoute kan egter ‘n negatiewe effek op DMI hê, maar gewoonlik net indien die konsentraat of meel wat die anioonsoute bevat,op sy eie gevoer word en nie wanner dit in ‘n volledige TGR gevoer word nie. ‘n Goeie alternatief is om soutsuur (HCl) in stede van anioonsoute te gebruik, wat geen negatiewe impak op DMI het nie, maar wat natuurlik ‘n uitdaging inhou t.o.v. veilige hantering en die erroderende effek op toerusting.

Magnesium (Mg), Kalium (K), Natrium (Na) en Ammoniak (NH3) as risiko faktore vir melkkoors

Mg absorpsie geskied hoofsaaklik in die rumen en word onderdruk deur ‘n hoë K konsentrasie in die dieet, veral teen lae Mg konsentrasies, ‘n lae Na konsentrasie asook ‘n skielike toename van NH3 in die rumen. Laasgenoemde se effek neem egter oor ‘n 2-3 dae periode af soos die rumenwand aanpas by hoër NH3 vlakke. Hipomagnesemia (lae bloedvlakke van Mg) wat hierop volg, onderdruk weer PTH afskeiding en die effek van PTH op die mobilisasie van Ca uit die been wat noodsaaklik is om melkkoors tydens kalwing teen te werk. Dit is dus belangrik, met in ag neming van dieet K inhoud en die biobeskikbaarheid van Mg, om dieet Mg vlakke te verhoog tot 0.4% van DM en selfs hoër om melkkoors risiko te beperk. Hierdie konsentrasie bereken deur die onderhoudsbehoefte, kolostrumbehoefte, biobeskikbaarheid en die daling in DMI rondom kalwing, in ag te neem.

Ander belangrike aspekte met betrekking tot die oorgangsfase

• Tekens van ‘n onvoldoende oorgangsprogram sluit in koeie wat trae en sikliese voerinname veral na kalwing toon, buitensporige metaboliese- en infeksieprobleme en erge verlies aan liggaamsmassa.

• Rondom kalwing verlaag rumenkapasiteit en dus inname, maar terselfdertyd styg die koeie se energiebehoeftes dramaties. Om te kompenseer verbruik die koeie liggaamsvet (NEFA) wat dikwels nie volledig na energie omgeskakel word nie. Een van die afbraakprodukte van die proses in die lewer, is asetaat. Indien propionaat beskikbaar is word die asetaat omgesit in energie. Indien propionaat nie beskikbaar is nie word ketone gevorm wat dikwels op die koei se asem geruik kan word. Vandaar die naam ketose en is basies ‘n gevolg van ‘n energietekort. Dit kom baie dikwels voor by vet koeie met ‘n kondisie van 4+.

• Skielike melkproduksie na kalwing veroorsaak ‘n geweldige behoefte vir kalsium (Ca) wat nie dadelik bevredig kan word nie. Bloed Ca vlakke daal dan sodanig dat melkkoors onstaan. Die verhoogde behoefte moet aanvanklik bevredig word deur Ca uit been te mobiliseer totdat die spysverteringskanaal se vermoë om Ca te absorbeer verhoog het.

• Subkliniese melkkoors kan ook aanleiding gee tot verplaasde abomasum en ketose omdat dit die gladdespierfunksie inhibeer wat krities is vir normale fuksionering van die spysverteringskanaal.

• Tydens die oorgangsfase word die immuunstelsel se funksionering onderdruk met die gevolglike verswakte vermoë om op infeksies te reageer. Dit verhoog dus die kanse vir infeksies soos mastitis en metritis.

Wenke en duimreëls vir die oorgangsfase

• Koeie moet in die regte kondisie kalf (kondiesiepunt 3.5).

• Stimuleer koeie se aptyt voor en na kalwing om te verseker dat DMI so hoog moontlik is en negatiewe energie balans (NEB) dus beperk word. Deur gebruik te maak van ‘n 21 dae voor kalf opstoomdieet en ‘n vars-in-melk dieet kan baie help om DMI maksimaal te hou, so min moontlik vet te mobiliseer (NEFA) en dus minder na-kalwing probleme te ondervind. Sulke diëte moet wetenskaplik saamgestel wees om aan al die besondere behoeftes van oorgangskoeie te voldoen en spesifieke aandag aan energie, aminosure, Ca, Mg, Na, K, spoorminerale en vitamiene is belangrik.

• Die rumen moet optimaal aangepas word vir die oorgang na hoë kragvoer diëte, met veral energiesamestelling in ag genome, sonder om asidose te veroorsaak of koeie vet te maak en insulien weerstandigheid te veroorsaak.
• Ruproteïen moet binne perke wees, met aandag aan die korrekte aminosure om lae, maar goeie kwaliteit kolostrumproduksie te verseker en om aanvanklike melkproduksie nie te veel te stimuleer nie.

• Handhaaf hoë bloedkalsiumvlakke rondom kalwing deur te verseker dat koeie Ca vinnig uit die been kan mobiliseer. Dit kan bewerkstellig word deur:

o Ca in die dieet sodanig te verlaag (< 20g/koei/dag) dat ‘n negatiewe Ca-balans ontstaan en sodoende mobilisasie van Ca uit die been stimuleer. Dit is egter baie moeilik om so ‘n dieet te formuleer.

o ‘n Metaboliese asidose te veroorsaak d.m.v ‘n negatiewe dieet-katioon-anioonbalans (DKAB), sodat die pH van die bloed daal en mobilisasie van Ca uit die been gestimuleer word. Negatiewe dieet-katioon-anioonbalans kan geskep word deur die gebruik van anioonsoute (soute van chloriedes- en sulfate) om ‘n negatiewe DKAB te verkry.

• Lae magnesium (Mg) vlakke in die bloed gee ook aanleiding tot melkkoors en dit is belangrik om 0.35-0.45% Mg in die opstoomdieet te voorsien.

• Die korrekte medikamente en spesifieke voedingstowwe moet ingesluit word vir die ondersteuning van die immuunfunksie, spesifieke organe en die endokriene stelsel wat krities is vir gesonde koeie met optimale metaboliese en fisiologiese funksies. Spesiale aandag moet ook gegee word aan medikamente om rumengesondheid te bevorder met ‘n fokus op positiewe energiebalans.

• Verskaf deurgaans voldoende skoon, vars en koel drinkwater.

• Moenie oorskiet of gemufde voer vir die koeie gee wat moontlik DMI kan onderdruk nie. Hou voerbanke vol vars voer. Verskaf voldoende koel maklik bereikbare drinkwater. Hou vesellengte dop en sluit ‘n bietjie ekstra lang vesel in die dieet in om rumensteurnisse te voorkom.

• Dra sorg dat koeie gemaklik is en beperk faktore wat tot “stress” aanleiding gee. Groepering van koeie kan belangrik wees deur oor-agressiewe koeie eenkant te hou omdat sulke koeie die inname van ander kan beïnvloed.

• Dit is uiters belangrik om spoorminerale en vitamiene gebalanseerd te voorsien vanweë die essesiële rol in soveel lewensfunksies en veral die handhawing van die immuunstelsel gedurende hierdie fase. Dit word sterk aanbeveel dat melkkoeie 3 weke voor kalwing ‘n dosis van ‘n inspuitbare vitamien-spoorminerale preparaat ontvang.

Vir meer inligting, skryf aan [email protected]

 

AFGRI Fractionated Feeding Program

The AFGRI Fractionated Feeding program for precision in-parlour feeding of individual cows is the most efficient precision feeding program currently available.
The program is a significant update on the Ideal Weight feeding model within Afifarm. This program is now available to AFGRI customers with Afifarm or Alpro at no extra cost, but with all the great benefits.
We address both nutrition and feeding requirements with great accuracy and a remarkably low management burden, resulting in improved efficiency of concentrate usage and thus resulting in greatly increased profitability.

Download the fractionated feeding program brochure here