Bio-sekuriteit op die melkplaas 

Deur Anton Gresse AFGRI Veevoere 

In die veebedryf word boere elke dag uitgedaag deur verskeie patogene, byvoorbeeld die bek-en-klou-seer epidemie wat ‘n ontnugtering vir baie is. Boere het die finansiële effek ongelukkig gevoel met die verbod op veilings en uitvoere. Ek glo dit is dus duidelik dat dit nodig is om respek te toon vir die skadelike mikrobes wat in ons omgewing voorkom. 

Hoe versprei ‘n patogeen 

Om bio-sekuriteit op ‘n melkplaas effektief te bestuur is dit belangrik om te verstaan hoe ‘n patogeen vanaf ‘n dier wat besmet is na ‘n gesonde dier oorgedra word. Daar is 5 primêre verspreidingsroetes vir patogene, naamlik: 

  1. Die lugweg, mikrobes word oorgedra in vogdruppels van ‘n nies of hoes. 
  1. Oraal, die dier vreet voer wat besmet is of kou/lek besmette voorwerpe. 
  1. Vel, wonde wat oop is word besmet. 
  1. Reproduksie, gedurende dekking of infeksie van die fetus in utero. 
  1. Bloed, die dier word gebyt deur ‘n insek wat die patogeen versprei of ‘n besmette voorwerp soos ‘n naald of neustang wat die vel breek.  

 

Sommige patogene versprei deur slegs een roete terwyl ander ‘n kombinasie van die bogenoemde roetes kan gebruik. Die tabel hier onder wys van die algemene siektes en die roete van verspreiding. Dit illustreer hoe maklik ‘n siekte tussen diere en tussen kuddes oorgedra kan word indien die nodige bestuurspraktyke nie in plek is nie.  

Algemene siektes by melkbeeste (aangepas uit Jordan et al., 2016) 

Siekte  Roete van verspreiding  Patogeen 
Anthrax/Miltsiekete  Oraal  Bakterieë 
Brucellose  Oraal, Reproduksie  Bakterieë 
Bees leukaemia virus  Bloed, Reproduksie  Virus 
Bees paratuberkulose (Johne se siekte)  Oraal, Reproduksie  Bakterieë 
Bees tuberkulose  Lugweg  Bakterieë 
Bees virus diarree (BVD)  Lugweg, Reproduksie  Virus 
Coronavirus enteritis  Lugweg  Virus 
Kriptosporidiose  Lugweg  Protozoa 
Besmetlike bees rinotrageïtis (IBR)  Lugweg, Reproduksie  Virus 
Leptospirose  Vel, Oraal, Lugweg, Reproduksie  Bakteria 
Neospirose  Oraal, Reproduksie  Protozoa 
Parainfluenza-3 virus (PI3)  Lugweg  Virus 
Klem-in-die-kaak  Vel, Bloed  Virus 
Selmonellose  Lugweg  Bakterieë 

 

Bekamp ‘n patogeen só 

Die mees doeltreffende meganisme vir die voorkoming van siektes is om kudde immuniteit op te bou en te onderhou. Dit begin met die passiewe immuniteit wat aan die kalf oorgedra word in die biesmelk kort na geboorte. Immuniteit word verder onderhou deur ‘n volledige inentingsprogram wat stiptelik gevolg moet word. Die dier se immuunstelsel bou ‘n “geheue” as dit blootgestel word aan die biologiese produk in ‘n entstof. Dit bewerkstellig ‘n vinnig en doelgerigte reaksie teen die patogeen/siekte sodra die dier met dit besmet word, wat die simptome en die negatiewe effek op produksie minimaal hou. Diere moet gehalte voeding ontvang wat die nodige energie, aminosure, vitamiene, makro en spoorminerale voorsien vir die immuunreaksie teen ‘n patogeen.  

Dit is van kardinale belang om siek diere so gou moontlik te identifiseer, asook die patogeen/siekte wat die simptome veroorsaak. Dié diere moet dan in kwarantyn geplaas word tot hulle herstel. Karkasse van diere wat vrek moet ook op ‘n veilige manier verwyder en vernietig word. Beweging vanaf die siek kamp (en karkasse) moet gereguleer word om te keer dat patogene deur die omgewing versprei. Alhoewel dit stremming op bestuur plaas, sal dit goed wees om ontsmetting-stasies op die been te sit, veral by die kalwers. 

Streng maatreëls rakende besoekers, voertuie en aangekoopte diere wat van buite af kom moet op die plaas toegepas word. Daar moet ‘n vaste roete wees vir die vragmotor wat voer aflaai of melk kom haal asook konsultante, veeartse en selfs familie wat kom kuier. Onnodige beweging op die plaas moet vermy word. Aangekoopte diere moet in kwarantyn gehou word vir minstens 14 dae en indien hulle gesond bly kan hulle by die res van die kudde aansluit. Dit is belangrik om ‘n volledige inentingsverslag van aangekoopte diere te ontvang. Só kan jy verseker dat nuwe diere effektief in skakel by die plaas se gesondheidsprogram.  

Ter afsluiting 

Voorkoming is baie goedkoper as behandeling wanneer dit kom by veesiektes. Indien daar onsekerheid is oor ‘n effektiewe bio-sekuriteitprogram op jou melkplaas, nader jou veearts of klop aan by jou buurman om só ‘n program te bespreek. Ons melkboere moet daagliks verskeie uitdagings oorkom en ek vertrou dat dieregesondheid (en mensgesondheid) net nog een sal wees wat suksesvol bestuur word.