Die redes en bestuursriglyne vir die gebruik van verskillende lekaanvulling.

Henri Viljoen, Tegniese Adviseur, AFGRI Veevoere

Onvoorspelbare reën, droogte, mark skommeling a.g.v. bek-en-klou, verhoogde inset kostes en die grondkwessie het boere reeds vroeg in 2019 laat begin wonder of hul nog aan die voorpunt van die land se voedselproduksie wil wees.

Met die laat en onreëlmatige reën is daar in groot dele van ons land beperkte weiding en met die wintermaande wat voorlê sal daar noukeurig bereken moet word hoe die boer sy lekaanvulling gaan gebruik om hierdie winter die diere se kondisie te behou en sodoende koste-effektief te boer.

Die doel van lekaanvulling is om die nutriënte wanbalans wat natuurlik voorkom vanweë inherente eienskappe van die veld reg te stel en sodoende te verseker dat die diere in ‘n positiewe energiebalans bly.

Die probleem met diere wat op droë veld wei, is dat die veldkwaliteit van een plek tot die volgende van mekaar kan verskil. Selfs in dieselfde kamp kan daar wesenlike verskille wees in die voedingswaarde van die weiding. Elke streek en jaar verskil ook van mekaar vanweë variasies in die klimaat.

Boere moet dus die kondisie van sy diere noukeurig dophou en saam met sy adviseur ‘n lekaanvulling kies om die basiese behoeftes van die diere te bevredig.

Daar is 3 basiese tipes lek aanvulling:

Proteïenlekke, wat proteïen, energie en minerale verskaf. Produksielekke wat energie, proteïen en minerale verskaf. Mineraallekke, wat slegs vitamien en minerale verskaf.

Die tipe lek wat gebruik word, word bepaal deur die tipe weiding, (Groen of droog), die beskikbaarheid van die weiding en die produksiefase van die dier (groeiend, dragtig, lakterend of droog). In die skrywe word net Proteïenlekke en Energielekke bespreek aangesien die somer maande reeds verby is.

 

Proteïenlekke (Winterlekke):

Proteïen is gedurende die winter die beperkende faktor. Diere wat ‘n proteïen tekort het wei gewoonlik min al is daar baie veld beskikbaar. Diere raak maer en hul mis is droog, hard en swart van kleur.

Algemene riglyn is dat ‘n 450 kg koei 225 g ru-proteïen ‘n dag benodig om haar gewig te onder hou. Proteïenlekke bevat gewoonlik ureum (10-15%) en die proteïen waardes kan wissel tussen 35 – 60%. Verder bevat die lekke ook minerale.

Die bron van die proteïen in die lek is belangrik. Verskillende kombinasie van ureum en verbyvloeiproteïen gaan bepaal vir watter tipe diere die lek aangewend behoort te word. Voorbeelde hiervan is AFGRI se Optitech 45 en Beeslek 45. Albei het 45 % ru-proteïen maar die proteïen fraksies verskil. Optitech 45 het 24% natuurlike proteïen en 10 % ureum teenoor Beeslek 45 wat 15% natuurlike proteïen het en 12 % ureum. Optitech 45 is dus meer geskik vir jong groeiende en produserende diere en die Beeslek 45 is meer geskik vir onderhoud op winterveld.

 

Produksie lekke(Energie lekke ):

 

Produksielekke bevat tussen  16-32% proteïen, 8-10 MJ ME/kg, 0.9 – 1.2% Ca en 0.6% P (Ca:P moet 1.5 tot 2.1 wees), Mg, K, S en spoorelemente. Produksielekke word aangewend  wanneer weiding nie aan die voedingsbehoeftes van groeiende jong diere, laatdragtige en lakterende diere kan voorsien nie. Dit is noodsaaklik dat produksielekke genoegsame verbyvloeiproteïen en energie bevat omrede dit aan diere gevoer word wat ‘n hoër behoefte aan proteïen en energie het as gevolg van hul produksiefase.

 

Bestuursriglyne:

 

Aanpassing van diere moet altyd gedoen word, wanneer daar ‘n voer verandering gemaak word. Diere wat nie gewoond is aan ureum-lekke nie moet vir ongeveer 7 dae slegs ‘n soutlek ontvang om te verseker hulle nie southonger is wanneer die ureum-bevattende lek gevoer word nie. Ureum is hoogs oplosbaar en ureum-lekke moet beskerm word teen reën. Genoegsame vreetspasie, water en weiding moet altyd beskikbaar wees. Voer altyd volgens die aanbevelings van die veevoer maatskappy. Indien die innames bo die aanbeveling is, kontak jou adviseur dadelik om die probleem op te los.

 

Ten Slotte:

Mineraallekke word gebruik om mineraal tekorte in die somer aan te vul. Proteïenlekke word gebruik om die lae proteïen vlakke van droë weidings aan te vul en so ook die inname van die weidings te verhoog.