Doeltreffende voedingstrategieë in droogtetye

Deur Johan Loubser, AFGRI Veevoere

’n Droogte word gewoonlik beskryf as ’n lang tydperk, dikwels langer as een jaar, met reënvalsyfers vir ’n spesifieke gebied wat laer as normaalweg is. Water en ruvoertekorte volg onvermydelik daarna. Groot finansiële impakte, veral op produsentevlak, is deel van ’n droogte.

Voorspellings vir Suider-Afrika wys dat ons in die toekoms ’n toename in droogtes kan verwag. Die realiteit van  langdurige droogtes is dat die gevolge slegs deur proaktiewe besluitneming, bestuur en beplanning verminder kan word.

 

Droogtes weens menslike impak

Die vernaamste rede vir droogtes of ruvoertekorte weens menslike impak, is die deurlopende oorbenutting van weiding. Dit word veroorsaak deur te hoë veebeladingsdigthede, waar die aantal diere die voorgeskrewe drakrag van weiding oorskry. Dit lei tot baie lae volumes beskikbare weiding. Dit is meestal tot ontwikkelende en landelike gebiede beperk.

Hierdie droogtes kan voorkom word met die toepassing van die korrekte ladingsdigthede van diere asook goeie weidingsbestuurspraktyke.

 

Seisoenale droogtes

Seisoenale droogtes is ’n algemene verskynsel as gevolg van seisoenale veranderinge, byvoorbeeld laatsomer in die Wes-Kaap en laatwinter in die somerreënvalgebiede. Die beskikbaarheid en gehalte van ruvoerbronne en weiding is dan gewoonlik op sy laagste. Dikwels word ’n ‘groen droogte’ aan die begin van die nuwe reënvalseisoen ervaar, wanneer weiding nog groen is. Dit kan daaraan toegeskryf word dat die volume van beskikbare ruvoer of plantegroei dan beperk is. Hierdie tipe droogte is oorkombaar met goeie weidingsbestuur, aanvullende voedingspraktyke en die nakoming van drakrag-riglyne.

’n Algemene reël is om die aantal diere binne 80% van die maksimum voorgeskrewe drakapasiteit van natuurlike  weiding te hou. Verander die tipe en hoeveelheid aanvullende voeding betyds volgens seisoenale veranderinge. Neem die beskikbaarheid en gehalte van weiding, asook die fisiologiese stadium van die diere, in ag. Diere in produksie (lakterend) benodig meer voer.

 

Sikliese droogtes

Sikliese droogtes verwys na periodieke droogtes as gevolg van veranderinge in die weerpatrone. Dit is hoofsaaklik te wyte aan aardverwarming en veral El Niño-verskynsels binne die Suid-Afrikaanse konteks. Dié tipe droogtes kan nie voorspel of verander word nie.

 

Negatiewe finansiële impak

Sikliese droogtes kan weens die volgende redes ’n negatiewe finansiële impak op veeboere hê:

  • Vermindering van die aantal reproduktiewe diere as gevolg van ruvoer- en weidingstekorte.
  • Vermindering van die aantal bemarkbare speenkalwers of -lammers.
  • Verlaagde groei van gespeende diere.
  • Aankoop van ruvoer wanneer die beskikbaarheid daarvan gewoonlik beperk is.
  • Hoër as normale ruvoer- en voerpryse as gevolg van voorsiening en vraag en ander ekonomiese faktore.
  • Verkoop van diere wanneer ander produsente ook hulle diere verkoop. Die skielike ooraanbod van diere lei gewoonlik tot laer veepryse.
  • Bogemiddelde veepryse wanneer produsente na ’n droogte weer hul veegetalle wil verhoog.

 

Doelwitte vir droogtevoeding

Die hooffokus van diere se voeding moet tydens ’n sikliese droogte op onderhoud gemik wees, en nie op volle  produksie nie. Voere moet die hoogste beskikbare volume materiaal teen die laagste koste vir instandhouding beskikbaar stel, ongeag die fisiologiese voedingstofwaarde.

Die resultaat is maksimum vesel of ruvoer, met minimum konsentraatinname. Voere of kombinasies met ’n ruproteïenwaarde van 10% en ’n energiewaarde van 8,2 megajoules metaboliese energie, sal meestal  voldoende wees. Die onderhoudsbehoeftes van jonger diere is laer as dié van ouer diere. Diere moet dus verkieslik op ’n jonger ouderdom gespeen word.

Kernteeldiere moet veral tydens laat dragtigheid en vroeë laktasie meer gevoer word om ’n aanvaarbare kondisie te handhaaf. Kalwings- en lamprobleme, ’n swak groeitempo by jong diere en lae herbesetting kom voor wanneer teeldiere se kondisietellings te laag daal.

Kruipvoeding vir veral lammers is voordelig omdat hulle dan heelwat minder vreet. Hulle is ook dan in die tydperk wanneer hul voeromsetverhouding op sy beste is, en kan vroeër as normaalweg gespeen en verkoop word.

Verandering van kuddestruktuur

Tydelike herstrukturering van die kudde behels die tydige verkoop van alle nie-teeldiere (osse, speenkalwers en slagdiere). Verkoop speenkalwers en speenlammers vroeër om druk op teeldiere en beskikbare weiding te verlig. Die afronding van gespeende diere op die plaas is slegs ’n opsie indien die voerkoste en beskikbare fasiliteite daarvoor voorsiening maak.

 

Voorsorgmaatreëls vir droogtes

  • Voorsien ten alle tye genoeg drinkwater.
  • Indien moontlik, gebruik kleiner kampe om energieverliese te beperk.
  • Groepeer diere volgens hul kondisietelling, ouderdom en fisiologiese stadium.
  • Gebruik doeltreffende voerkrippe om verliese te beperk.
  • Indien moontlik, maal of kerf ruvoer. Die inname met gemaalde hooi is tot 30% hoër as met lang hooi.
  • Voorsien skaduwee.
  • Hou diere skoon van inwendige en uitwendige parasiete.

AFGRI Veevoere vervaardig ’n volledige reeks voere en aanvullings vir droogtetoestande. Kontak gerus ’n AFGRI tegniese adviseur rakende beskikbare produkte en voedingsaanbevelings.