Kuilvoer jou bate in tye van droogte.

Deur Henri Viljoen AFGRI Veevoere

Weens onvoorspelbare reën, droogte, mark skommeling a.g.v. Covid 19, verhoogde insetkostes en die grondkwessie het boere baie struikelblokke wat voorlê. Dit is ook opvallend ons laat reën kry die laaste paar jaar, veral in die sentrale deel van die land.

Met hoë temperature en min weidings beskikbaar vanweë die lang harde winter is daar beperkte ruvoer op die veld beskikbaar vanaf Augustus tot en met Desember of selfs later wanneer dit vir die eerste keer reën. Kuilvoer is die beste en koste effektiefste manier om die laat reën periode te oorbrug.

Kuilvoer kostes en beplanning.

Sorghum kuilvoer kan maklik op droëland verbou word en met sy lae insetkoste verlaag dit die risiko aansienlik. Met persoonlike ondervindings is beleef dat  insetkoste selfs in ʼn droë jaar gedek word vanweë die gewas se groei vermoë en hoë stand. In die Sentrale streke is die droëland koste tussen R300 – R450 per ton kuilvoer, afhangend van die volume kuilvoer wat geproduseer word. Natuurlik is die ou gesegde van hoe meer jy produseer, hoe laer is jou kostes hier ook waar.

Indien jy oorweeg om die seisoen kuilvoer te produseer moet daar nou al begin beplan word hoe dit in jou boerdery gaan inpas.

Faktore wat in ag geneem moet word sluit in:

  • Gewas en kultivar:

Sorghum is baie goedkoper as mielies, maar die styselvlakke is baie laer. Grasse, lusern, beet en hawer kan ook ingekuil word.

  • Plant datum:

Onthou die droë materiaal inhoud van kuilvoer moet tussen 32 – 45 % wees om te verseker jy kry goeie kompaksie en ʼn suurstof vrye omgewing.

  • Kerf datum:

Die datum is moeilik om te bepaal, maar is krities belangrik aangesien die stadium van sny direk gekorreleer kan word met die kwaliteit van jou kuilvoer. Kry kenners om jou te adviseur oor die sny stadium.

  • Toerusting tot jou beskikking en toerusting wat in gehuur of aangekoop moet word:

Die inkuiling proses is baie tyd sensitief. Kontrakteurs is duur en nie altyd beskikbaar nie. Maak dus seker jy het genoegsame toerusting of huur opsies voor kuilvoer gemaak word.

  • Waar die kuilvoer gestoor word:

Poog om die kuilvoer so naby as moontlik aan waar die diere gevoer gaan word te stoor, om sodoende die kostes laag te hou.

Maak seker die hoop is op ʼn hoogliggende gebied sodat vloed water nie die voer beïnvloed nie.

  • Metode van gestoor :

Silo.

Kuilvoer sak.

Bunker.

Gat met grond mure.

Hoop bo op die grond (Bun)

Die bun metode van kuilvoer stoor is die maklikste en koste effektiefste manier om dit te doen. Dit is een van die grootste redes hoekom kuilvoer produksie deesdae baie makliker is as voorheen. Al wat benodig word is grond met ʼn klein helling wat in ʼn hoog liggende gebied geleë is en ʼn goeie seil om die bun toe te maak na die vastrap proses.

  • Inkuiling van die voer:

Die inkuiling is die belangrikste stap van die hele kuilvoerproduksie proses. Gedurende die inkuiling word die plant suiker omgeskakel in melksuur wat dien dan as ʼn preserveermiddel. Inkuiling is ʼn fermentasie proses wat in ʼn anaërobiese omgewing plaasvind en vir die rede moet die kuilvoer hoop lugdig geseël word met ʼn UV bestande seil wat ten minste 150 mikron dik is. Die optimale pH van goeie kuilvoer is tussen 3.8 – 4. Genoegsame suiker en melksuur bakterieë is nodig om te verseker dat die pH die beoogde vlakke bereik. Indien die pH nie onder 4 daal nie sal bottersuur gevorm word wat die smaaklikheid van die kuilvoer kan beïnvloed wat lei tot laer innames en laer produksie.

  • Kompaksie:

Maak seker die trekker wat gebruik word vir kompaksie trap nie onnodige grond of ander materiaal in die hoop nie. Kontaminasie vind plaasvind en die kuilvoer kwaliteit word negatief beïnvloed vanweë mikotoksiene wat oorgedra word. Kompaksie is ʼn voortdurende proses tydens kuilvoer produksie, maak dus seker om baie aandag te gee hier aan.

  • Hoeveel kuilvoer gaan gebruik word per dag:

Die hoeveelheid voer wat gebruik word per dag bepaal hoe groot die kuilvoer hoop gaan wees. Verliese word sodoende beperk.

  • Toemaak van die hoop:

Ou bande of ʼn grondlaag is die beste manier om die hoop toe te maak na die seil oorgetrek is vir wind. Maak seker om diere weg te hou van die kuilvoer hoop af.

 

 

Kuilvoer kan vir langtermyn gestoor word. Daar is gevalle aangeteken waar kuilvoer wat 20 jaar oud is suksesvol gebruik was om droogtes te oorbrug. Natuurlik was die kuilvoer goed gestoor in ʼn suurstof vrye omgewing. Daar word voorspel dat die volgende paar jaar bestendige reënval seisoene gaan wees en dit is nou die geleentheid vir elke boer om voor te berei vir die moeiliker tye wat kan voorlê. Wanneer daar weer ʼn droogte kom, sal jy as kuilvoer boer makliker die droogte kan aanpak.