Oesreste

Danie du Toit, AFGRI VeevoereTegniese Adviseur

Inleiding:
Met die uitdagings wat landbouprodusente in die gesig staar, moet grond, weidings, vee en oesreste ten volle benut word om winsgewendheid te verseker. Die natuurlike weidings in die oostelike dele van Suid-Afrika bestaan uit suurgras wat baie goeie voedingswaarde in die somer bied, maar marginaal tot laag in die winter is.

Oesreste van kontantgewasse soos mielies, graansorghum, sonneblom en sojabone maak ‘n belangrike deel van die voervloeiprogram van veeboerdery in die saaigebiede uit. Oesreste, as weidingsbron, kan as goedkoop beskou word. In die geval waar insetkoste van die graanproduksie verhaal word, kan reste as byna verniet gesien word. Landerye met ‘n hoë opbrengs potensiaal, sal gewoonlik oor ‘n hoër drakrag beskik in vergelyking met landerye van laer opbrengs potensiaal.

Diereprestasie op oesreste?

Die mees algemene gewasse wat as weidingsbron gebruik word is mielies en sojabone. Dus fokus ons meer op hierdie gewasse. Die kwaliteit van die oesreste word bepaal deur die verhouding tussen die stoppelfraksie en graan. Ander faktore wat ook ‘n invloed het is die kultivar en die tipe stroper wat gebruik word. Die beste resultate op oesreste word verkry as die diere direk na stroop die reste begin bewei, ongeag die kultivar of stroper. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die kwaliteit van oesreste verlaag ongeveer vier weke na oes. Mieliereste se kwaliteit neem nie so vinnig af soos die van sojaboon-reste nie.

Mielies:

Op ʼn mielieland kan tot en met 300kg mielies per hektaar oorbly direk na stroop. Daar is gevind dat skape binne ‘n halfuur soveel as 800g mielies kan inneem. ‘n Voordeel van ‘n vars gestroopte mielieland is dat die energiewaarde hoog is. Alhoewel die energiewaarde hoog is kan daar wel tekorte wees in proteïen, koper, sink, magnesium en kalsium. Groot verliese kan voorkom wanneer vee nie aangepas is op hoë vlakke van beskikbare mielies en graan nie as gevolg van asidose of meer bekend as suurpens. Die verhouding tussen kalsium en fosfor op mielie-oesreste is ongunstig vir ʼn herkouer se behoeftes, wat kan lei tot die ontwikkeling van melkkoors by lakterende diere.

AFGRI Landelek, beskikbaar as ‘n meel of korrels, is geformuleer om voedingsprobleme te beperk en -tekorte aan te vul op mielie-oesreste.

Sojabone:
Sojaboon oesreste se groot voordeel is dat dit in die herfs beskikbaar is, wanneer die gehalte van natuurlike weiding al begin afneem het en daar nog nie mieliereste beskikbaar is nie. Dit oorbrug dus die gaping tussen somerweiding en mieliereste effektief teen ‘n lae koste. Die aanpassing van herkouer diere op sojaboon oesreste is dieselfde as vir mielie oesreste. In die geval waar reste gebaal word, het sojaboon oesreste ‘n beter kwaliteit in vergelyking met mielie oesreste.

Soos met beweiding van afgeoeste mielielande het beweiding van sojaboonlande ook voedingtekorte wat in gedagte gehou moet word. Eerstens, wanneer vee nie aangepas is op sojabone nie, kan diere oorvreet, loperige mis toon as gevolg van vette in die rou sojabone en opblaas. Tweedens kan lammers se groeipotensiaal belemmer word, omdat sojaboonreste as enkel bron lae melkproduksie , asook taai en dik biesmelk, veral by ooie tot gevolg het weens ‘n wanbalans tussen proteien en energie. Laastens kan die risiko vir ureumvergiftiging by vee verhoog word wanneer ‘n hoë ureumbevattende lek vir vee gegee word wat op sojaboon oesreste wei.

AFGRI se Ovitech 13, in ‘n meel of korrels, is geformuleer om voedingsprobleme te beperk en tekorte aan te vul op sojaboon oesreste.

Gevare en oplossings:

Siektes wat algemeen voorkom tydens die benutting van oesreste is, koksidiose, bloednier en pasteurella. Die toestande is stres verwant, omdat diere blootgestel is aan koue nagte tesame met hoë koolhidraatdiëte op mielie oesreste asook hoë stikstofdiëte veral op sojaboon oesreste. Haarwurm besmetting kan ook ‘n probleem wees. Diere kan geënt en doseer word om siekte toestande te voorkom.

Soos alreeds genoem is suurpens (asidose) die grootste probleem wat voorkom by beweiding van oesreste. Dit kan voorkom word deur:

  • Nie diere wat honger is op oesreste te jaag nie.
  • Pas diere geleidelik aan op oesreste. Dit kan gedoen word deur eerstens graan aan skape te voer op die veld, sewe dae voor hulle reste toe gaan. Op die eerste dag kan daar met 100g per dier per dag begin word en geleidelik vermeerder word tot dag sewe. Alternatiewilik kan weidingstyd op oesreste beperk word. Begin met 30 min op dag een en verleng tot ad lib weiding op dag sewe.
  • Tesame met die oesreste moet ‘n aanvulling gebruik word wat ‘n medikament bevat om suurpens te voorkom.

Opsomming

As oesreste korrek bestuur word en die regte byvoeding gegee word kan dit ‘n betekenisvolle bydrae tot totale voervloeibeplanning lewer. Diere moet oesreste direk na stroop benut om die beste waarde vanuit die reste te verkry, terwyl suurpens deurlopend gemonitor word.