Hittestres – Laat die suiwelbedryf jaarliks miljarde aan inkomste verloor
SP Els, AFGRI Dierevoere
Die effek van hittestres (HS) is nadelig vir verskeie suiwelproduksieparameters, insluitend melkproduksie en reproduksie, en sal in die toekoms ‘n groter uitdaging word as gevolg van globale klimaatsverandering. Daarom plaas die negatiewe invloed wat HS op suiwelparameters het, ‘n beduidende finansiële las op suiwelprodusente.
Hittestres kom voor wanneer ‘n koei se vermoë om homeostase te handhaaf, benadeel word, gewoonlik as gevolg van omgewingstemperature wat die termoneutrale sone oorskry. Die termoneutrale sone word gedefinieer as die temperatuurreeks waarbinne ‘n dier sy normale liggaamstemperatuur kan handhaaf. Wanneer die dier se kernliggaamstemperatuur bo die normale fisiologiese vlak styg, word hittestres ervaar. Hierdie toestand word gemeet deur die Temperatuur-Humiditeitsindeks (THI) te bereken.
Wanneer ‘n melkkoei aan HS blootgestel word, word haar natuurlike verkoelingsmeganismes benadeel en verskeie biologiese en gedragsreaksies word geaktiveer om die uitwerking van hittestres te verlig voordat meer sigbare tekens van stres, soos hyg en verminderde droëmateriaalinname (DMI), waargeneem word.
As gevolg van HS en die koei se pogings om haar normale kernliggaamstemperatuur te handhaaf, neem DMI af. Dit lei weer tot verlaagde melkproduksie en reproduksie, ‘n laer melkvet- en proteïenpersentasie, sowel as ‘n verswakte immuunstelsel. Studies het getoon dat die verminderde DMI slegs verantwoordelik is vir ongeveer 50% van die afname in melkproduksie, en dat koeie onder HS addisionele energie benodig. Ander negatiewe gevolge van hittestres sluit die volgende in:
- Akute gesondheidsprobleme
- Hoër voorkoms van aborsies
- Rumenasidose
Die koei se liggaam moet ‘n 20:1-verhouding van bikarbonaat (HCO₃) tot koolstofdioksied (CO₂) in die bloed handhaaf. Hittestres verhoog die asemhalingstempo, wat die CO₂-vlakke in die bloed verlaag. Om hierdie verhouding te handhaaf, skei die niere HCO₃ uit. Gevolglik is daar minder HCO₃ via die speeksel beskikbaar om die rumen te buffer.
Indien ons ‘n beter begrip het van die biologiese redes waarom hittestres produksie verminder, sal ons beter kan bepaal hoe om dit te verlig.
Voedingstrategieë
- Verander voertye sodat voer gedurende die koelste deel van die dag verskaf word.
- Werk saam met ‘n voedingskundige om rantsoene dienooreenkomstig aan te pas, byvoorbeeld:
- Gebruik van ionofore
- Aanvulling van die dieet met HCO₃
- Verskaffing van addisionele energie sonder die hitte-inkrement van voeding
- Verhoging van die kaliumvlak in die rantsoen, aangesien koeie kalium gebruik om te sweet
Maar die primêre strategie om produksieparameters tydens hittestres te verbeter, is BESTUUR!
Bestuurspraktyke
- Voorsien vars, koel water gedurende periodes van hittestres en voldoende drinkbakspasie om opeenhoping te voorkom. Melkkoeie kan gedurende die somer meer as dubbel soveel water inneem as gedurende koeler maande.
- Verskaf skaduwee. In weidingsgebaseerde stelsels moet kampe met skadubome gebruik word, of koeie moet voor die middagsessie vroeër na ‘n skaduryke area met genoeg koel water en addisionele voer, soos mieliekuilvoer, gebring word.
- Verskaf skaduwee aan droë koeie. Daar is toenemende bewyse dat HS gedurende die droë periode beduidende negatiewe gevolge vir die aangebore en aanpasbare immuunstelsels van beide die koei en haar nageslag het. Dit beïnvloed die siektevoorkoms van vroeë laktasiekoeie en kalwers vanaf geboorte tot eerste kalwing.
- Gebruik sproeiers in kombinasie met waaiers in die aanhouarea. Navorsing het getoon dat hierdie kombinasie vinnig die liggaamstemperatuur en asemhalingstempo van koeie kan verlaag.
- Verminder die stapafstand en stapspoed na die melkstal.
- Verminder wagtyd in die aanhoukamp.
- Melk vroeër in die oggend.
- Voer vroeg in die oggend en laat in die aand.
- Vermy inentings gedurende die middel van die dag.
Die korrekte identifisering van koeie wat hittestres ervaar en ‘n deeglike begrip van die biologiese en gedragsmeganismes waardeur termiese stres melkproduksie en reproduksie verminder, is van kritieke belang vir die ontwikkeling van innoverende benaderings om die afname in produksieparameters gedurende stresvolle somermaande te beperk of te voorkom.
Verder is dit duidelik dat geen enkele strategie voldoende is om hittestres te verminder nie. Dit vereis eerder ‘n kombinasie van strategieë wat geïmplementeer moet word om ‘n volhoubare suiwelbedryf te ondersteun in ‘n wêreld met ‘n veranderende klimaat.



.png)
