Fokus op Voeding en Fase van Dragtigheid: Sleutel tot Sukses

Gefokusde voeding gedurende dragtigheid kan ’n positiewe impak op die reproduksie, produksie en

winsgewendheid van ’n mens se skaapkudde hê. Dit is belangrik om te weet in watter fase van  dragtigheid (vroeg, middel of laat) die ooi is, om voeding te verskaf wat in die behoeftes vir die spesifieke ontwikkeling en groei van daardie fase kan voldoen. Gedurende dragtigheid wissel die groeikurwes tussen embrioniese aanhegting, plasentale groei en fetusgroei.

Die vroeë fase van dragtigheid is belangrik vir embrioniese aanhegting en plasenta-ontwikkeling. Ooie op ’n lae voedingspeil wat nie ten minste hulle liggaamsgewig ondersteun nie, loop die gevaar van embrioniese dood en swak plasentale ontwikkeling. Plasentale groei moet vanaf hierdie fase tot met middragtigheid ondersteun word, omdat die plasenta se optimale ontwikkeling talle voordele inhou vir reproduksie, geboortegewig, lamvrektes en speenpersentasies.

 

Figuur 1: Die hoofgroeifases van dragtigheid. (Bron: Researchgate)

 

Optimale plasenta-ontwikkeling

Plasenta-ontwikkeling vind grootliks plaas tussen dag 30 en 80 van dragtigheid, waarna dit die eksponensiële groei van die fetus in laatdragtige ooie ondersteun. Plasenta-grootte het dus ’n direkte invloed op die lam se geboortegewig. Lammers met ’n lae geboortegewig het hoë lamvrektes tot gevolg, wat deur optimale plasenta-ontwikkeling verhoed kan word.

Die plasenta beïnvloed ook die potensiaal van die ooi in terme van melkproduksie, aangesien die  plasenta ’n hormoon genaamd plasentale laktogeen vrystel, wat melkklierontwikkeling stimuleer. Melkklierontwikkeling vind plaas vanaf dag 100 van dragtigheid tot met lamtyd, en bepaal  uiteindelik die ooi se melkproduksiepotensiaal en uiergrootte, wat ’n groot uitwerking op lamvrektes en speengewig het.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat plasentale groei slegs tydens middragtigheid deur voeding beïnvloed kan word en nie tydens laatdragtigheid (ná dag 80) reggestel kan word nie.

 

Kondisie van laatdragtige ooie

In laatdragtige ooie is voeding van kardinale belang vanaf dag 100 tot met lamtyd, want dan is die fetus se groeitempo baie hoog. Ondervoeding tydens hierdie tydperk kan tot ’n laer geboortegewig lei. Dit is belangrik om na die energie- en proteïensamestelling van aanvullings tydens hierdie fase te kyk, ten einde optimale groei van die fetus te ondersteun. Laatdragtige ooie se kondisie moet ook baie goed wees, want ooie in goeie kondisie lewer swaarder lammers.

Ooie wat meerlinge dra het ook ’n baie hoër energiebehoefte as ooie met enkelinge, en moet volgens hierdie verskillende behoeftes gevoer word. Die gebruik van ’n meer gekonsentreerde aanvulling kan sorg dat daar aan ooie se behoeftes voldoen word, aangesien die vergrote baarmoeder die ooie se inname onderdruk as gevolg van fisiese innamebeperking.

Kolostrum en Melkproduksie

Swak voeding tydens die laaste maand van dragtigheid kan melkproduksie en die kolostrum hoeveelheid en -gehalte negatief beïnvloed, wat sal lei tot lamvrektes en ’n laer speengewig. Die korrekte vitamien- en spoormineraalvlakke tydens die laaste maand van dragtigheid is ook baie belangrik vir melk- en kolostrumproduksie.

Let veral op vitamien E- en seleniumvlakke in die rantsoen, aangesien beide ’n positiewe uitwerking op melkproduksie en kolostrum het. ’n Groot hoeveelheid hoë-gehalte kolostrum kan ook verseker

word deur genoegsame verbyvloeiproteïene in die rantsoen te voorsien. Verbyvloeiproteïene het ook ’n groot invloed op uierontwikkeling in die laaste week van dragtigheid.

 

Gefokusde voeding vir elke fase van dragtigheid kan dus groot ekonomiese voordele en verbeterde winsgewendheid vir die kudde inhou. Deur te weet aan watter behoeftes om te voldoen en wanneer behoeftes tydens dragtigheid verander, kan ’n mens dus kostedoeltreffend vir gesonde, lewensvatbare lammers en verhoogde winsgewendheid sorg.

(Grafiek is aangepas uit Fetal Mechanisms That Lead to Later Hypertension – Scientific Figure on ResearchGate. Available from: https://www.researchgate.net/figure/Fig-4-Feto-placental-growth-curves-in-the-sheep_fig4_6147512 [accessed 9 May, 2019])