GRAAN IN DIE VOERKRAAL

Hoe fyn is fyn genoeg?  Wat is die werklike verliese?

Deur Gerrit Coetzee – AFGRI Veevoere

Dit is kommerwekkend dat daar vandag nog voedingkundiges is wat verkondig dat daar geen verskil tussen heel, gebreekte en gemaalde mielies is nie.  Almal stem egter saam dat die risiko vir rumen steurnisse verhoog soos die mielies fyner gemaal word.  Waarom sal dit wees?  Waarom is die risiko vir asidose heelwat laer by heel mielies in vergelyking met fyn gemaalde mielies?

Teorie

Deurvloeitempo is die tyd wat voer in die spysverteringskanaal spandeer.  Hoe stadiger die deurvloeitempo hoe meer tyd is daar beskikbaar vir vertering.  Heel of gebreekte mielies sal dus langer blootgestel word aan vertering.  Die teendeel is dan dat fyn gemaalde mielies vinniger deur die spysverteringskanaal beweeg en ‘n korter tyd aan vertering blootgestel word, die blootstellings oppervlakte is egter groter en kanselleer teoreties die vinniger deurvloeitempo uit.  Teoreties is daar dus nie ‘n verskil tussen heel, gebreekte of gemaalde mielies nie.

“Meet om te weet”

Daar is ‘n baie eenvoudige manier om te bepaal of vertering beter is op growwe of fyn gemaalde mielies.  Die antwoord is eenvoudig om die hoeveelheid stysel wat in die mis verlore gaan te bepaal.  Dit kan gedoen word deur ‘n verteenwoordigende monster na ‘n laboratorium te stuur vir ontleding.  Maak net seker dat dit ‘n erkende laboratorium is wat aan alle standaarde voldoen om foutiewe inligting te voorkom.

Risiko

Deur onoordeelkundig die mielies in bestaande rantsoene fyner te maal het groot risiko vir die gesondheid van die dier.  Kontak eerder ‘n betroubare voedingkundige met ondervinding in die bedryf om jou daarmee by te staan.

 

Praktyk

Die afgelope paar jaar is daar by verskeie plaaslike voerkrale onder verskillende omstandighede en met verskillende ruvoer bronne vergelykings gedoen tussen graan fraksies en stysel wat verlore gaan in die mis.  Graan fraksies word bepaal deur dit te sif met ‘n 3.55 – 2.36 – 1.44mm sif en die persentasie graan in elke fraksie word bepaal soos die foto illustreer.

 

 

Voorbeelde van graan fraksies.  (1 en 2 Graansorghum, 3 en 4 Mielies)

Dit word dan in die rantsoene gebruik vir ten minste 7 dae voor ‘n verteenwoordigende mis monster geneem en na ‘n laboratorium gestuur word.  Die stysel ontleding word dan teenoor die graan fraksies beoordeel.  Graan word fyner gemaal en deur dieselfde stelsel beoordeel.  Meestal word dieselfde rantsoene gebruik omdat verandering in graan fynheid klein gehou word om akkurate en vergelykbare syfers te kry.  Daar was sonder uitsondering met elke verandering van graan fynheid ‘n verlaging in stysel wat verlore gaan in die mis.

Ekonomie 

Kom ons aanvaar ‘n paar duimreëls en teoretiese syfers om die berekening te vereenvoudig;

  • Mielie prys R2600
  • Mielie prys R2955 op DM basis.
  • Mielies bevat 70% stysel op DM basis.
  • ‘n Voerkraal kalf wat in die afrond fase 9kg DM volledige rantsoen vreet wat uit ‘n kombinasie van mielies, en ander grondstowwe bestaan.

Stysel in die mis kan wissel van so min as 5% tot 30%.  As die bogenoemde kalf se mis 20% DM stysel bevat gaan ongeveer 480g stysel per dag verlore.  As ons dit kan verlaag na 10% DM stysel in die mis verlaag die verlies na 212g stysel per dag.  Dus ‘n verskil van 268g stysel per dag.  1kg stysel op ‘n DM basis is R4.22 wat dan beteken dat ons met die klein verbetering van stysel vertering R1.13 per dier per dag minder stysel verloor.  Oor 120 dae is dit R135.60 per dier en vir ‘n kraal van 10 000 kalwers R1 356 000 per 120 dae siklus.  Dit neem natuurlik nie die verbetering van voeromset (VOV) in ag wat hiermee gepaard gaan nie.  VOV het ‘n groot impak op winsgewendheid.

Opsomming

Daar is sonder twyfel baie voordele en risiko wanneer graan fyner gemaal word.  Wanneer dit reg gedoen word in samewerking met ‘n voedingkundige oortref die voordele definitief die betrokke risiko.  Kraal bestuur moet goed wees om resultate te verseker.  Fyn mielies in samewerking met mielie semels (chop) kan baie effektief gebruik word.  Effektiwiteit waarmee alle hulpbronne gebruik word speel ‘n groot rol in die winsgewendheid van die onderneming.