Prikkelvoeding as hulpmiddel in skaapboerdery

Deur JW van Niekerk, tegniese adviseur by AFGRI Veevoere

 

Een van die fases waar ’n groot impak op die doeltreffendheid van ’n skaapboerdery gemaak kan word, is deur die besettingspersentasie en fekunditeit (meerlinge) te verhoog.  Prikkelvoeding is een van die bestuurshulpmiddels wat onder sekere omstandighede doeltreffend aangewend kan word om die lampersentasie en winsgewendheid in ’n skaapboerdery te verhoog.

Dit is alombekend dat diere se kondisie met die aanvang van die paarseisoen ’n baie belangrike rol speel. Die doelwit met voeding (veral prikkelvoeding) gedurende hierdie stadium is om te verseker dat soveel as moontlik ooie op hitte kom, die maksimum ovulasietempo (eiselafskeiding) plaasvind, asook dat die meeste eiselle bevrug en ingeplant word en in lewensvatbare fetusse ontwikkel om sodoende die lampersentasie te maksimeer.

 

Prikkelvoeding is ’n handige hulpmiddel wat gebruik kan word om gewigstoename te verseker en sodoende die lampersentasie te maksimeer. (Foto met vergunning van Trogtek)

Verandering in voeding

 

Prikkelvoeding is die term wat gebruik word as beskrywing van die verandering in ooie (en ramme) se voeding voor die aanvang van die teelseisoen, met die doel om die ooie se gewig te laat toeneem.

Die tradisionele siening was dat ooie vir ’n tydperk voor paring doelbewus eers maerder

gemaak word en dan drie weke voor paring op volop gespaarde weiding met ’n prikkellek

geplaas word om dan baie vinnig in gewig toe te neem. Navorsing toon egter dat die

ovulasietempo en besetting afneem as ooie kort voor die prikkeltydperk gewig verloor en

dat dit ten alle koste vermy moet word.

Latere navorsing het ook gewys dat die voedingspeil drie weke voor paring slegs ’n betekenisvolle invloed het indien die ooie in ’n nie-optimale kondisie is. Die doelwit moet wees om ooie met paring in ’n uitstekende kondisie (kondisiepunt of KP van 3,5) te kry om ’n optimale ovulasietempo, en dus ’n hoë lampersentasie, te verseker. Indien ooie boonop met paring in gewig toeneem, is hulle meer geneig om tweelinge te produseer as dié wat hul gewig handhaaf of verloor.

 

Hoër lampersentasie

 

’n Verhoogde ovulasietempo word reeds opgemerk wanneer ooie slegs vier dae voor paring met prikkelvoeding begin, maar die beste resultate word gesien wanneer ooie 14 tot 21 dae voor ovulasie met prikkelvoeding begin en dit vir die duur van die paringstydperk volgehou word. ’n Duimreël is dat die lampersentasie met 1,5% styg vir elke 1kg wat ooie swaarder is met paring.

Hoe beter die kondisie van die ooi met paring is, hoe minder byvoeding word gedurende mid- en laatdragtigheid en veral tydens laktasie benodig omdat die ooi van haar liggaamsvetreserwes as energie kan gebruik. Dit is dus vir ’n winsgewende skaapboerdery-onderneming van kardinale belang om teelooie in die regte liggaamskondisie (3,5 KP) met paring te kry.

 

Ramme se spermproduksie

 

Die ram se bydrae om ’n hoë lampersentasie te verseker, moet egter nie vergeet word nie. Prikkelvoer kan help om hulle testesgrootte/volume en spermproduksie te maksimeer. Goeie voeding vir ’n tydperk van twee maande voor die aanvang van die paarseisoen kan die spermproduksie laat verdubbel. Die voer van hoë vlakke van grane moet egter vermy word omdat dit vrugbaarheid nadelig kan beïnvloed weens oormatige vetneerlegging in die skrotum, wat hitte-uitruiling beperk.

Teelramme moet ekstra energie, maar veral ’n baie hoë vlak van deurvloeiproteïen, gevoer word om testesgroei en spermproduksie te maksimeer omdat ongeveer 50% van die droë spermmateriaal uit proteïen bestaan.

Maak dus seker dat ooie en ramme voor die aanvang van die paarseisoen in goeie kondisie (3,5 KP) is en gedurende die paarseisoen in gewig toeneem. Prikkelvoeding is ’n handige hulpmiddel wat gebruik kan word om gewigstoename te verseker en sodoende die