Totale gemengde rantsoen (TGR)- wins of verlies vir die boer.

Arrie Herbst AFGRI Veevoere Tegniese Adviseur

Waardetoevoeging is vandag sentraal tot volhoubare en winsgewende boerdery onder moeilike omstandighede. In veeboerdery kan ’n ekstra inkomste gegenereer word deur jou speenkalf of -lam self af te rond deur middel van ’n totale gemengde rantsoen (TGR). Sekere

belangrike suksesfaktore moet egter in ag geneem word, want anders kan dit tot groot ekonomiese verliese, eerder as ’n verhoogde inkomste, lei.

Wat is ʼn TGR:

’n TGR behels die meng van verskeie grondstowwe, onder andere ruvoer, in spesifieke hoeveelhede om ’n gebalanseerde rantsoen aan die dier in ’n spesifieke stadium van produksie te voer. Die TGR moet só geformuleer word dat dit al die nodige voedingstowwe vir elke stadium van produksie bevat. Ruvoer soos gras of strooi en kuilvoer, word saam met energiebronne in die vorm van mielies of ‘hominy chop’ en ’n hoë proteïen konsentraat gemeng om die dier in staat te stel om met elke hap ’n gebalanseerde dieet in te neem.

Voordele van ʼn TGR:

  • ’n Goed gemengde TGR sal voerdoeltreffendheid verhoog, want elke hap bestaan uit goed gebalanseerde voedingstowwe wat produksie verhoog.
  • Ruvoer word saam met die konsentraat deur die dier ingeneem, wat ’n baie meer stabiele rumen-omgewing skep. Dit verhoed dat die dier hom oorvreet aan die konsentraat, wat tot spysverteringsprobleme soos asidose, opblaas en rooiderm kan lei.
  • Produsente kan na verskillende roumateriale, soos ‘hominy chop’ of brouersgraan, kyk as ’n goedkoper energie of proteïenbron om die TGR se koste te verlaag.
  • Produsente kan ook ’n groot deel van die TGR, soos gras, kuilvoer en mielies, self op die plaas produseer. Dan is dit net nodig om ’n hoë-proteïen konsentraat in te koop om die TGR te meng.

Nadele van ʼn TGR:

  • Om ’n TGR doeltreffend te meng, moet die regte menger aangeskaf word. Beide die menger en trekker moet onderhou word, en dit lei tot addisionele kostes.
  • Daar is ’n optimale tyd wanneer ’n TGR gemeng moet word. Wanneer ’n TGR te vinnig gemeng word, kan die vesellengtes te lank wees. Diere kan dan konsentraat uitsoek en die vesel los. Indien die TGR te lank gemeng word, kan die vesel te fyn gesny word en kan dit tot spysverteringsprobleme lei.
  • Diere in ’n voerkraal of melkery moet elke dag op dieselfde tyd gevoer word. Dit is dus belangrik om op naweke en vakansiedae seker te maak dat die regte voedingstye gehandhaaf word.

Belangrike aspekte by die meng van ʼn TGR

Vesellengte is uiters belangrik by die mengvan ’n TGR. Gras of strooi moenie te lank of te kort wees nie, want dit beïnvloed die  rumenfunksies en lei tot produksieverliese.

Dit is belangrik om eers droë voerkomponente soos gras, strooi en lusern saam met die konsentraat in te gooi, sodat dit fyn gesny kan word. Wanneer roumateriale soos kuilvoer en nat brouersgraan bygevoeg word, raak die hele mengsel nat en sny die ruvoer baie moeilik.

Die vog in ’n TGR is belangrik. Produsente moet weet hoeveel vog in roumateriale soos kuilvoer is ten einde die totale mengsel se vog te balanseer. Te veel vog in ’n TRG kan innames onderdruk, omdat dit die rumenkapasiteit beperk. Te min vog kan veroorsaak dat diere konsentraat uitsoek omdat dit nie aan die ruvoer vaskleef nie. Konsentraat is baie smaaklik, so diere sal dit eerder vreet en die ruvoer los.

Voerkrippe moet gereeld skoongemaak word, veral wanneer daar met kuilvoer of nat brouersgraan gewerk word. Voer kan as gevolg van hoë vogvlakke vinnig muf en dit lei tot vrot kos wat diere nie wil eet nie. Die verskaffing van genoegsame vars voer sal hoër innames en dus verbeterde produksie tot gevolg hê.

Opsomming

Die produsent kan winsgewend waarde toevoeg tot sy kalf of lam deur ’n TGR te voer, mits hy al bogenoemde faktore in ag neem. Met die hoë koste van roumateriale, is dit noodsaaklik om ’n voedingkundige of adviseur te gebruik om die TGR te formuleer vir optimale produksie.

Dit is ook noodsaaklik dat roumateriale deurentyd gemonitor word sodat aanpassings gemaak kan word as die voedingswaardes verander. Roumateriale soos kuilvoer en lusern kan op die oog af dieselfde lyk, maar die voedingswaardes kan aansienlik verskil. Indien die TGR in sulke gevalle nie aangepas word nie, sal dit tot produksieverliese lei.