Wenke vir die suksesvolle vroegspeen van lammers
Deur Colin Moolman, herkouerspesialis by AFGRI Veevoere
Die kleinveebedryf ondervind tans geweldige druk as gevolg van lae pryse, droogtes en verliese as gevolg van ongediertes. Dit noodsaak boere om ’n meer intensiewe lamstelsel te
ondersoek. Intensiewe lamstelsels kan ook gesien word as ’n metode om ooigetalle te verhoog, aangesien minder diere op weidings of veld aangehou word.
Die grootste koste by intensiewe lamstelsels is die voer wat die ooi voor en gedurende
laktasie vreet. Dit is noodsaaklik om die voerperiode so kort as moontlik te hou. Die vroegspeen van lammers speel ook ’n sleutelrol in die boerdery se winsgewendheid. Intensiewe stelsels, hetsy lamhokkies of ooie wat in klein krale of op weidings lam, het almal dieselfde drywers vir die suksesvolle vroegspeen van lammers.
Daar is vier belangrike fases gedurende die lamseisoen: Die drie weke voor lamtyd,
nul tot sewe dae na lamtyd, een week na lamtyd tot speentyd en die fase na speentyd.
Drie weke voor lamtyd
Dit is baie belangrik om ooie in die drie weke voor lamtyd aan te pas op die rantsoen wat hulle gaan vreet nadat hulle gelam het. ’n Hoë-gehalte rantsoen met genoeg deurvloeiproteïen (bv. AFGRI Volledige Lakterende Ooikorrels) moet gevoer word om te verseker dat ooie genoeg hoëgehalte kolostrum produseer. Aanpassing op die rantsoen is baie belangrik, aangesien
metaboliese steurnisse soos asidose vermy moet word.
Die fetus moet gedurende dié tydperk voldoende voedingstowwe vanaf die ooi ontvang om te verseker dat ’n sterk, lewenskragtige lam of lammers gebore word. Verseker ook dat ooie vry is van inwendige en uitwendige parasiete en dat alle inentings op datum is. Ooie moet rondom lamtyd so min as moontlik en baie versigtig hanteer word.
Nul tot sewe dae na lamtyd
Voldoende toesig is tydens die geboorteproses nodig om te verseker dat alle lammers binne die eerste 24 uur genoegsame kolostrum inkry. Omdat die digtheid waarteen diere in intensiewe stelsels aangehou word baie hoog is, is higiëne uiters belangrik. Vuil of nat lamhokkies kan tot groot verliese lei. Dit is ook raadsaam om alle diere se naelstringe kort na geboorte met jodium te behandel. Skoon waterbakke is ongetwyfeld die mees onderskatte bydraer tot suksesvolle diereproduksie.
Ooie en lammers moet so min as moontlik versteur word. So word verseker dat ’n goeie band tussen die ooi en lam vorm voordat hulle in groter groepe geplaas word. Indien ooie vroegtydig op die lakterende rantsoen aangepas is, sal hulle innames in dié tyd merkbaar hoër wees. Dit sal tot verhoogde melkproduksie lei en ooie sal dan ook swaarder lammers speen.
Een week na lam- tot speentyd
Om lammers suksesvol vroeg te speen (42 tot 60 dae), moet hulle so gou as moontlik toegang tot hoë-gehalte kruipvoer (soos AFGRI se Superlam Kruipkorrels) hê. Lammers behoort op twee weke reeds sowat 15g kruipvoer te vreet en die inname moet stelselmatig vermeerder word tot 600g per dag. Die kruipvoer moet genoegsame hoeveelhede hoë gehalte proteïen en energie bevat.
Sorg veral dat die regte aminosure in dié tydperk gevoer word. Jong herkouers se genetiese potensiaal word tydens hierdie fase bepaal. Lammers se groei gedurende dié tydperk kan dus ’n groot invloed hê op die volwasse dier se leeftydproduksie. Die ruvoer in kruiprantsoene moet van ’n baie hoë gehalte en verkieslik gemaal wees. Die lam se voeromsetverhouding is gedurende dié tydperk baie goed en kan so laag as 1:1 wees. Hoe jonger lammers is, hoe beter is die voeromsetverhouding. Dit verswak soos hulle ouer word na 5 tot 5,5:1. Die ooie se voerinname sal ook in dié tydperk tot sowat 4% van hul liggaamsgewig styg, teenoor 3% gedurende laat dragtigheid.
’n Goeie maatstaf om te bepaal wanneer om te speen, is 45% van die ooie se volwasse
gewig. Die sinkronisasie van ooie maak dat lamseisoene korter en die bestuur van die speenproses eenvoudiger is. Lammers se ouderdom verskil dan minder en hulle kan saam gespeen word. Sorg dat alle inentings
en doserings op datum is voordat
lammers gespeen word.
Fase na speentyd
Speentyd is ’n baie stresvolle tydperk vir lammers. Alles moontlik moet gedoen word om stres te beperk en hul voerinname so hoog as moontlik te hou. Gewigsverlies moet ook vermy word. Dit word ten sterkste aanbeveel dat lammers tot twee weke na speentyd op die kruipvoerrantsoen bly en dan na ’n voerkraalaanvangsrantsoen oorgesit word. Lammers wat kruipvoer ontvang het en daarop gespeen word, presteer altyd beter as ander lammers in die voerkraal.



















.png)