Proteïene: Kwaliteit en Bronne

Leon Botha AFGRI Veevoere.

 

Produkte word maklik vergelyk op prys wanneer die sakkaartjie waardes van ru-proteïen dieselfde is. Tog is hierdie ʼn baie breë term wat ons nie veel oor die produk se kwaliteit of verwagte produksie inlig nie. Wanneer proteïen bronne oorweeg word is dit belangrik om aspekte soos ouderdom van dier, produksiestadium, hoeveelheid stikstof afkomstig vanaf ureum of natuurlike proteïene, verteerbaarheid en verbyvloei fraksies te oorweeg. Want hierdie faktore speel almal ʼn rol in winsgewendheid van produksie, en is belangrik om in ag te neem vir hoë proteïen konsentraat (HPK), lekke en die totale gemengde rantsoen (TGR).

 

Die term ru-proteïen (CP) wat alom bekend is, word opgebreek in 5 fraksies (Fig.1). Wat belangrik is om te weet van die proteïene bron 1.) die totale nie-proteïen-stikstof (NPN) en 2.) die essensiële aminosure beskikbaar in die rumen en laer spysvertering stelsel, want hierdie is wat uiteindelik vir jou ʼn aanduiding kan gee of die behoeftes bevredig word om die verlangde produksie doelwit te bereik.

 

Proteïen in Voerkrale:

Kalwers gebruik mikrobiese proteïen en aminosure as boustene vir groei. Mikrobes in die rumen omskep die fermenteerbare komponente in die rantsoen na energie (vetsure) en mikrobe proteïen. Die eerste doelwit bly altyd om rumen mikrobe proteïen sintese te dryf vir optimum rumen funksie. Die produksie van mikrobe proteïen alleen is egter nie voldoende om hoë vlakke van produksie of versnelde groei te onderhou nie. Dit is waar die verbyvloei fraksies van proteïne belangrik raak. In die lae spysvertering kan hierdie verbyvloei proteïen opgeneem word as aanvulling van mikrobe proteïen om maksimale produksie uit kalwers te verkry.

 

Die proteïen behoefte vir groei is afhanklik van groei tempo en die proteïen inhoud van groei (gewigstoename). Aan die begin van die voerperiode bevat gewigstoename relatief baie proteïen en raak dit later in die voerperiode minder (soos neerlegging van vet toeneem) Fig.2. Dus, voordat ons kalwers in voerkraal begin voer, moet ons weet watter graad karkas ons wil bemark aan die einde (480kg/ 500kg/ 520kg). Hierdie beginsel sal maak dat ons anders kyk na die “backgrounding”, aanvangs en groei rantsoene wat meer fokus op raam groei en spier neerlegging teenoor die afrond fase wat laer is in ru-proteïen en meer energie.

 

Wanneer proteïen bronne soos soja-, katoen- en sonneblom-oliekoek as proteïne bron oorweeg word, raadpleeg jou voedingkundige eerder oor die verskille in voer omset verhouding van die verskillende bronne, die rand per kilogram massa toename (R/kg massatoename) en uitslag persentasie verskille tussen proteïen bronne. Hierdie sal daarop dui dat meer betaal kan word vir ʼn beter proteïen bron/ton om ten einde meer winsgewend te wees.

 

AFGRI Veevoere bied ʼn alternatief met Aminomax verbyvloeiproteïen tegnologie, wat die verbyvloei fraksie van oliekoeke verhoog deur ʼn streng gekontroleerde ensimaties proses en hitte. Wat uiteindelik verbyvloei verhoog, verteerbaarheid verbeter en produksie dryf deur n goeie aminosuur profiel.

 

Proteïen Bronne in Winterlekke:

Proteïenlekke word as aanvulling gebruik wanneer lae verteerbare weiding (stoppellande, strooi en droë veld) beskikbaar is. Dit is hier waar daar onderskeid getref moet word tussen proteïenlekke wat hoofsaaklik ureum bevat en lekke wat meer natuurlike proteïene, dus meer deurvloei proteïene bevat. Hierdie hoër deurvloei fraksie kan die mikrobe proteïen en aminosuur behoefte in die laer spysvertering aanvul. Proteïenlekke met minder ureum en meer natuurlike proteïen is veral geskik vir jonger groeiende diere en wolskape op droë weiding. Selfs as stoppellande met baie pitte en groen opslag bewei word is proteïenlekke met hoër verbyvloeiproteïen meer van waarde, aangesien ammoniak-N konsentrasie voldoende sal wees vir rumen mikrobes, en verbyvloeiproteïen die tekort aan mikrobe proteïen sal aan spreek.

 

Probeer weg beweeg vanaf die rand per persentasie ru-proteïene (R/%CP) op sakkaartjie wanneer proteïen bronne oorweeg word. Oorweeg eerder die kwaliteit, verteerbaarheid en aminosuur profiel van bron, want dit sal ʼn effek toon op uitslagpersentasie, voer omset verhouding, gemiddelde daaglikse toename en uiteindelik winsgewendheid.

 

Figuur 1:

 

Figuur 2: