Voerpryse in die Kollig

Jaco du Plessis: Tegniese Adviseur – AFGRI Veevoere

Voerpryse. ‘n Onderwerp vir bespreking in die landbousektor wat al verskeie individue laat sweet het. Die boer wat die voer aankoop of die verkose kandidaat van die voermaatskappy wat die prysbrief by die plaas moet gaan afgee.

Dit mag dalk lyk of voerpryse die hoogte inskiet die afgelope paar jaar. Kom ons kyk na van die faktore wat voerpryse beïnvloed om sodoende lig te werp op hoekom voerpryse is waar dit is.

 

Vaste kostes by voerfabrieke, of dan produksiekoste word deur verskeie faktore beïnvloed. Van die faktore sal onder andere insluit die tarief op elektrisiteit om die voer te produseer; maalkostes en arbeid wat gebruik word om die voer te produseer in terme van versakking en hantering. Boonop moet mens nog in hedendaagse begrotings beplan vir beurtkrag en onvoorsiene kragonderbrekings. Kragonderbrekings het ‘n geweldige impak op effektiwiteit van produksie en dus ook op koste van produksie.

 

Verder word voerpryse ook geweldig gedryf deur grondstofpryse soos mielies of sojabone. Sien Figuur 1 onderaan vir ‘n aanduiding van prysbewegings op mielies en op sojabone oor die afgelope dekade. Dit is skrikwekkend om te sien hoe duur onder andere die grondstowwe geraak het. Aangesien dit ‘n groot gedeelte van die meeste voere vul of byprodukte daarvan soos soja oliekoek in die voer gebruik word maak dit sin dat veevoerpryse dieselfde tendens volg as die grondstowwe.

 

Verskeie faktore wat die pryse van grondstowwe beïnvloed sluit onder andere in wisselkoerse met sterk geldeenhede. Veral die Rand/Dollar wisselkoers. Die wisselvalligheid van die Rand maak dit moeilik om vooruitskattings te maak op grondstofaankope soos sojabone omdat daar so baie van dit ingevoer word. ‘n Klein verandering in die wisselkoerse kan ‘n baie groot effek hê op die prys van die produk.

 

Beskikbaarheid van die grondstowwe is natuurlik ook ‘n baie groot drywer van die pryse en die hoeveelhede wat in- of uitgevoer word. Dit kom weereens terug na die impak wat wisselkoerse het op grondstowwe en dus ook voerpryse.

 

Brandstofpryse het ook ‘n noemenswaardige invloed op voerprys as mens die ligging van die voerfabriek waarheen gronstowwe aangery moet word asook die ligging waar die voer afgelewer word in berekening bring. Grondstowwe is baie keer net in sekere gebiede beskikbaar en daar is dus geen ander keuse as om dit na die fabriek te vervoer nie. Met die stygende brandstofprys het dit ‘n groot impak op voerprys, veral as die voer ver aangery moet word.

 

Laastens wil ek raak aan tegnologiese vordering in die voerbedryf. Soos die navorsing en tegnologie in die bedryf verbeter is daar al hoe meer produkte beskikbaar wat spesifiek vir een doel gemaak word. ‘n Voorbeeld daarvan sal ‘n produk wees wat spesifiek geformuleer word vir wolgroei by skape wat op stoppellande loop. Met tegnologiese vordering en navorsing word produkte so presies geformuleer vir ‘n spesifieke doel dat mens verseker met die verbeterde, duurder, produk ‘n heelwat beter inkomste bo voerkoste genereer net omdat daar meer effektief gevoer word en obrengste beter is.

 

Verwerkte produkte soos grondstowwe wat ‘n hittebehandeling of gaarmaakproses ondergaan laat mens toe om met minder volume voer baie meer effektiewe resultate te verkry.

 

Vra die verteenwoordiger van jou voermaatskappy oor die tipe van grondstowwe en voere. Vra ook uit oor goedkoper reekse voere indien dit krisistyd is en daar nie ander opsies is as om goedkoper te voer nie. Die sleutel tot sukses in voeding lê egter in effektiwiteit, nie altyd in terugsny op voerkoste nie.