Die verskillende fases van skaapvoeding
deur Henri Viljoen, AFGRI Veevoere Tegniese Adviseur
Die moderne Boer het daagliks nuwe uitdagings wat hom in die gesig staar.
Van droogtes tot mense wat besluit dat rooi vleis nie meer ʼn nodige voedselbron is nie. Dit is dus krities belangrik om ekonomies te voer en die beste manier om dit te bewerkstellig is om die belangrikste fases van ʼn skaap se produksie siklus te identifiseer en die regte produkte te voer vir die spesifieke tydperk wat inpas by bestaande weiding- en boerdery praktyke.
-
Jong ooilammers
(AFGRI Produk : AFGRI Groei Korrel, Supertech 25 Korrel, Landelek Korrel)
Ooilammers moet ‘n konstante massatoename vanaf geboorte tot op 12 maande handhaaf.
Ideaal is dat ooilammers ten minste 80% van hul volwasse massa bereik voor eerste paring.
-
Voeding van ramme
(AFGRI Produk : AFGRI Stoetram Korrel, AFGRI Ram Fertiliteits Korrel)
Dit is belangrik om die duimreël van een ram per 40 ooie toe te pas. Indien ʼn ram onvrugbaar is, lei dit tot groot verliese vanweë die hoeveelheid ooie wat nie dragtig is nie. Die voedings doelwit vir jong ramme is om binne die eerste 12 maande die ram se genetiese groeipotensiaal en skrotum-ontwikkeling te optimaliseer.
Voeding het ‘n direkte invloed op semenkwaliteit en semenvolume, wat ‘n groot invloed het op reproduksietempo. Omdat semenvolume egter moeilik meetbaar is, word testesmassa (volume, lengte en breedte) eerder as maatstaf of seleksiekriterium vir semenvolume gebruik. Daar bestaan ‘n 85%-korrellasie tussen testesmassa en spermproduksie. Waak teen oorkondisionering van ramme, omrede oorvet ramme laer kwaliteit semen produseer ten spyte van ‘n hoë semenvolume.
Sperme neem 49 dae om volwassenheid te bereik en nog 14 dae om deur die epididimus te beweeg. Dit is dus krities belangrik om ramme 3 maande vóór die begin van die dekseisoen in die regte kondisie te kry om sodoende optimale semenkwaliteit en -volume te verseker.
Oorerfbaarheid van testesvolume is 40% en testesgroei by ramme word deur dieselfde hormoon beheer as ovulasietempo by ooie.Dit is dus sinvol om ramme asook ooie wat deel van meerlinge is, te selekteer en sodoende reproduksietempo in die kudde te verhoog.
-
Kruipvoer vir Lammers
(AFGRI Produk : Super Lamkruip Korrel)
Kruipvoeding is een van die mees winsgewende voerpraktyke by skape indien dit reg en oordeelkundig toegepas word. ‘n Gemiddelde lam vreet ongeveer 4.1 kg kruipvoer om 1 kg liggaamsmassa aan te sit. Dus is die terugbetalingverhouding ongeveer 1:2 (gebaseer op Mei 2021 pryse).
Kruipvoer verlaag speenskok van lammers en voorkom dat ooie nie te veel liggaamskondisie verloor tydens die soogtydperk nie.
-
Prikkelvoeding (4 weke vóór paring tot 4 weke ná paring)
(AFGRI Produk : Supertech 25 Korrel)
Die doel van prikkelvoeding is om ooie op die ideale kondisietelling (3,5 tot 4) en gewig te kry voor paring. Navorsing het getoon dat lampersentasie met ongeveer 1,25 – 2% en ovulasietempo met 2 – 2,45% toeneem vir elke 1kg toename in lewende massa tot op maksimum massa voor paring. ‘n Goeie norm om te volg is dat ooie ongeveer 180 g/dag in gewig toeneem in die periode vóór paring om die maksimum effek op lampersentasie te verseker.
Waar daar van koggelramme gebruik gemaak word, hoef prikkelvoeding nie vir langer as 3 weke in die teelseisoen gegee te word nie. Die gebruik van koggelramme (10-14 dae) help dat ongeveer 90% van die ooie reeds binne 17 – 24 dae ná aanvang van die teelperiode begin ovuleer. Prikkelvoeding het ook ‘n verdere oordraageffek op ovulasietempo vir nog ongeveer 3 weke nadat die ramme uitgehaal is.
-
Onderhoud (4 weke ná besetting tot 6 weke vóór lam)
(Afgri Produk : Skaap Winterlek 35)
Gewigsverlies van ooie tydens die eerste maand van dragtigheid moet ten alle tye voorkom word. Dit kan embrioresorpsies tot gevolg hê. Na die eerste maand van dragtigheid kan ooie nader aan onderhoudsvlak gevoer word. Daar is navorsing wat bewys het dat ooie waarvan die voedingsvlak verlaag word na die eerste maand van dragtigtigheid meer lewenskragtige embrio’s produseer. Dit is ook die periode waar plasentale ontwikkelling hoofsaaklik plaasvind.
-
Laat dragtigheid tot vroeë laktasie (6 weke vóór lam tot 6 weke na lam)
(Afgri Produk : Supertech 25 korrel)
Die laaste 6 weke voor lam is krities belangrik. Dit is in die fase wat ʼn ongebore lam 75% in fetusmassa toeneem en ook waar optimale wolfollikel ontwikkeling plaasvind. Pas egter op vir oorvoeding (lam probleme) asook oorvet diere (vetweefsel in uier en ander organe) wat melkproduksie en reproduksie nadelig kan beïnvloed. AFGRI, in samewerking met Konsortium Merino, is tans besig om ʼn produk te ontwikkel wat spesifiek daarop gemik is om genetiese potensiaal vir wolfollikel ontwikkeling te bevorder.
Voordele van die korrekte voeding gedurende die fase is laer moontlikheid vir domsiekte, gesonde lammers, goeie herkonsepsie en lae voorkoms van aborsies
-
Periode 180 dae voor paring
Die vroeë gedeelte van laktasie skakel in met hierdie periode in een teelseisoen per 12 maande stelsels . Die duimreël is dat ooie nie meer as 10% van hulle liggaamsmassa tydens die eerste 6 weke van laktasie verloor nie. Fisiologiese bewyse bestaan dat dit die aanvanklike eisel (follikel) wat in die ovaria van die ooi ontwikkel ongeveer 6 maande (180 dae) neem om gereed te wees vir bevrugting tydens paring. Te hoë massaverlies van ooie tydens vroeë laktasie beïnvloed follikulêre ontwikkeling negatief wat ‘n direkte negatiewe invloed op lampersentasie in die volgende lamseisoen het.
Fase voeding is dus nog ʼn bestuurspraktyk wat waarde kan bedra tot jou boerdery.
Vir enige navrae kontak gerus jou AFGRI verteenwoordiger.