Groei teikens vir vervanging verse.
Groei teikens vir vervanging verse.
Deur Gert Cronjé – Tegniese Direkteur, AFGRI Veevoere
Wanneer voer mens watter lek? Is my vervanging verse groot genoeg? Hoekom is my eerste kalf verse se herbesetting syfer so swak? Hierdie is alles vrae wat beantwoord kan word deur korrekte noukeurige kudde en vervanging vers bestuur.
Die winsgewendheid van ʼn koei kudde word bepaal deur die aantal kalwers per jaar gespeen. In die geval van die bulletjies, word hulle bemark en in die geval van die verse sal die beter diere terug kom in die kudde as vervanging verse, die res sal ook bemark word as speenkalwers. Met vandag se uitdagings kan die speenkalf produsent nie meer bekostig om ʼn speen persentasie van minder as 80% te handhaaf nie. Teen ʼn speen kalf prys van R35.00/kg is die inkomste per koei wat ʼn 220kg kalf speen R770.00 verlies as die speen persentasie 75% is, in plaas van 85%. Dan word die effek van verhoogde seleksie druk nie eens in ag geneem nie.
Om ʼn 85% speen persentasie te handhaaf is ʼn uitdaging en baie van ons vra die vraag, hoe kry die ander boere dit reg om dit te handhaaf. Punte waarop gelet kan word om speen persentasie te verbeter is die volgende:
- Selekteer vir vrugbaarheid, dus indien die koei een keer nie beset raak nie, moet sy uit die kudde verwyder word.
- Goeie boere sal alreeds begin selekteer by die vervanging verse. Die verse wat nie die gewenste massa bereik op ʼn sekere ouderdom vir dekking nie, word ook uitgeskot alvorens hulle deel van die kudde vorm.
- Maak seker die koeie handhaaf hul kondisie reg deur die jaar. Hierdie aspek moet bestuur word, dus moet daar gelet word op dra krag asook lek aanvulling tydens Somer en Winter.
- Volg ʼn volledige ent en ontwurm program soos voorgeskryf deur die plaaslike veearts vir die spesifieke streek waarin daar geboer word.
Negatiewe energie balans het ń beduidende impak op her-besetting van koeie na kalwing. Dit dui op hoe lank dit neem vir ń koei nadat sy gekalf het om weer te begin gewig toeneem. Sodra sy gewig toeneem is sy weereens in ń positiewe energie balans wat sal aanleiding gee tot ovulasie wat weer sal plaas vind. Dit is dus uiters belangrik vir koeie om in die korrekte kondisie af te kalf om sodoende vinnig her-beset te raak. Daar moet genoeg energie beskikbaar wees vir die koei om herbeset te raak sodat sy in staat is om weer te kalf in die opkomende jaar. Hierdie is alreeds ʼn uitdaging vir volwasse koeie wat ʼn gesonde kalf moet groot maak. Sy het geen behoefte aan nutriënte vir groei vir haarself. Die uitdaging is soveel groter vir die vervanging vers wat die eerste keer gekalf het. Sy moet haar kalf soog en terselfdertyd moet sy groei, want sy is nog nie volwasse nie. Soveel boere trap in die strik van ʼn swakkerige konsepsie syfer, maar daar word nie gekyk hoekom die syfer so swak is nie. Na verdere ondersoek sal gemerk word dat die probleem by die eerste kalf verse is wat nie herbeset raak nie. Verse kan alreeds fisiologies volwasse wees teen 10 – 14maande ouderdom (afhangende van ras en tipe), maar dit is nie te sê dat hulle al reeds genoeg uit gegroei het om beset te raak nie. Onthou die uitdaging is nie om ʼn vervanging vers beset te kry nie, maar om haar herbeset ty kry in die daaropvolgende jaar na haar eerste kalf. Vir hierdie rede word die duim reël van minimum 65% van volwasse liggaamsmassa gebruik soos aangedui in tabel 1. Neem kennis hierdie teiken massas is gebaseer op ʼn sisteem waar verse op 26 maande gedek moet word. Indien dit die boer se mikpunt is om verse op ʼn vroeër ouderdom te laat dek, moet die verlangde gemiddelde daaglikse toename (GDT) dienooreenkomstig aangepas word sodat die vers steeds die verlangde massa bereik op die korrekte fisiologiese stadium soos aangedui in tabel 2. Hier word verse alreeds op 15 maande gedek, waarvan die volwasse massa 600kg is.
| 500kg Koei | |||||||
| Geboorte | Speen | Dek | 1ste kalf | 2de kalf | Volwasse | ||
| Oud, maande | 0 | 7 | 13 | 26 | 35 | 47 | 59 |
| % van Volwasse | 7% | 38% | 48% | 66% | 88% | 96% | 100% |
| Massa | 35 | 190 | 240 | 330 | 440 | 480 | 500 |
| Dae | 0 | 213 | 395 | 791 | 1065 | 1430 | 1795 |
| teiken GDT* | 0.73 | 0.27 | 0.23 | 0.40 | 0.11 | 0.05 |
* GDT (Gemiddelde daaglikse toename)
Tabel 1. Groei tekens vir koeie met ʼn volwasse massa van 500kg.
| Versnelde Teling | |||||||
| Geboorte | Speen | Dek | 1ste kalf | 2de kalf | Volwasse | ||
| Oud, maande | 0 | 7 | 13 | 15 | 27 | 40 | 53 |
| % van Volwasse | 6% | 35% | 56% | 65% | 85% | 95% | 100% |
| Massa | 35 | 210 | 335 | 390 | 510 | 570 | 600 |
| Dae | 0 | 213 | 395 | 456 | 821 | 1217 | 1612 |
| teiken GDT | 0.82 | 0.68 | 0.90 | 0.33 | 0.15 | 0.08 |
Tabel 2. Groei tekens vir ʼn versnelde teling program.
Tabel 1 dui aan dat die teiken massa vir die eerste kalf vers by kalwing 440kg is. Indien hierdie massa egter 380kg (86% van teiken massa) is beteken dit dat hierdie vers se nutriënt behoeftes heelwat hoër sal wees as eersgenoemde vers. Hierdie vers moet ʼn GDT van 230g handhaaf i.p.v. 110g soos die vers in die voorbeeld. Haar behoefte vir groei sal 100% hoër wees as die vers wat op teiken is. Duidelik gaan dit vir haar baie moeiliker wees om genoeg nutriënte vir haar sogende kalf asook vir haarself in te neem. In die geval waar nutriënt inname nie aan die totale nutriënt behoefte voorsien nie, sal nutriënte nie beskikbaar gestel word vir reproduksie nie, maar aan alle ander behoeftes soos onderhoud, melkproduksie en beperkte groei voorsien. Duidelik is dit belangrik om te probeer hou by voorgestelde teikens om bogenoemde probleem te vermy.
Die vraag word altyd gevra, watter lek moet vir die verse gevoer word. Die teiken massas uit tabel 1 is ʼn riglyn om te sien hoe presteer die betrokke diere teenoor ʼn riglyn norm. Indien die verse ligter as die betrokke norm is, moet dit oorweeg word om ʼn produksie lek te voer (Somer of Winter) om sodoende in te haal op die norm wat daar gestel is. Indien die diere beter as die norm presteer, kan hulle of vroeër gedek word, of geld kan gespaar word deur die diere ʼn onderhoudslek te voer. Op hierdie wyse kan beter besluite geneem word oor wanneer om ʼn spesifieke lek te voer.
Om ʼn winsgewende kudde te bestuur beteken dat die kudde vrugbaar moet wees onder alle omstandighede. As boer moet ons altyd seker maak dat ons selekteer vir vrugbaarheid om te verseker dat die korrekte koeie in die kudde bly. Dit is egter net so belangrik dat ons moet seker maak dat ons uit ʼn bestuursoogpunt alles gedoen het om te verseker dat alle vroulike diere regverdig kans gegee was om tot haar maksimum genetiese potensiaal te presteer. Op die einde van die dag moet die beste koeie tog in die kudde wees en nie in die abattoir nie.


.png)