ROOIWATER

ROOIWATER 

LAETITIA WALTERS. AFGRI Veevoere. 

 

Rooiwater (Bovine Babesiosis)  is ‘n lewensgevaarlike siekte wat alle beesrasse affekteer, en word deur ‘n parasiet genaamd Babesia Divergens oorgedra. Die oordrag vind plaas deur middel van bosluise. 

Die siekte is in die 1930’s in Kwazulu Natal deur die Europese Setlaars gerapporteer.  Die Ooskuskoors-dipkampanje teen die bruinoor bosluis het ‘n groot impak gehad op die bloubosluis populasie wat Rooiwater oordra, en het die siekte drasties laat afneem. In 1972 het ongeveer 10 000 beeste in die Transkei gevrek aan Rooiwater.  Meer as ‘n miljoen beeste het tydens die Bosoorlog in Zimbabwe gevrek daaraan.  ‘n Opname in 1993 het getoon dat 0.3% van die beespopulasie in SA aan Rooiwater gevrek het.   

Daar moenie eintlik van Rooiwater gepraat word nie, want daar is 2 verskillende siektes betrokke, nl. Afrika Rooiwater en Asiatiese Rooiwater.  Afrika Rooiwater word deur Bloubosluise veroorsaak, so dis belangrik dat ons meer van hulle weet. Die bloubosluis gee ‘n voorkeur aan beeste, maar sal ook op perde, donkies, skape en bokke voed.  Hulle kom ook op wild soos zebras, rooibokke, bosbokke, koedoes, elande en swartwitpense voor.   

Die bosluis word geklassifiseer as ‘n eengasheerbosluis, m.a.w. die hele lewensiklus (larwe, nimf en volwassene) geskied op een gasheer.  Die tydperk vandat die larwe op die dier klim totdat die vol gesuigde wyfie afval is ongeveer drie weke.   

Daar is hoë risiko periodes deur die jaar, gewoonlik gedurende die laat-lente/vroeg-somer en in die herfs.  Maar let wel dat Rooiwater reg deur die jaar kan voorkom afhangende of kondisies goed is vir bosluise. 

Oordrag van Rooiwater vind plaas wanneer volwasse vroulike bosluise die infeksie opdoen.  Hulle dra dit dan oor aan hul nageslag dmv hul eiers.  Larwes dra dit dan weer oor wanneer dit op ‘n volgende dier voed.   

Morbiditeit en mortaliteit van beeste varieer grootliks en word beïnvloed deur behandeling, vorige blootstelling aand die parasiet en enting status van diere.   

Daar is ‘n paar simptome waarvoor ‘n mens op die uitkyk moet wees: 

  1. Die geaffekteerde diere staan gewoonlik apart van die kudde.
  2. Daardie diere eet sleg.
  3. Hulle het ‘n hoë koors.
  4. Die urine is rooi-bruin en partymaal skuimerig.
  5. Diarree.

Soos die siekte vererger sal daar ook anemie, klem-in-die-kaak, hardlywigheid en rusteloosheid te voorskyn kom. 

Een van die kenmerke wat ongewoon is aan Rooiwater is dat kalwers ‘n natuurlike weerstandigheid teenoor volwasse diere vertoon. 

Beeste onder die ouderdom van ses maande toon nie kliniese tekens van Rooiwater nie, en sal immuniteit opbou as hulle aan die siekte blootgestel word. 

Die volgende stappe kan gevolg word om te voorkom dat beeste Rooiwater opdoen: 

  • Daar moet voorkom word dat diere deur bosluise gebyt word deur: 
    • Weidings bestuur (maak seker die weidings oorgroei nie, en maak bebosde areas skoon) 
    • Moenie diere in weidings instuur wat ‘n hoë bosluis lading het nie, veral nie gedurende die hoë risiko tye vir Rooiwater soos hierbo genoem nie 
    • Topikale produkte om bosluise te beheer bv dip…onthou dat sodra die effek van hierdie produkte verminder, die diere weer vatbaar sal wees vir infeksie. Daar kan so gereeld as elke 4 tot 6 weke gedip word waar baie hoë ladings van bosluise voorkom. Die voorkoms van bosluise wat weerstandig raak teen dip, chemiese residue wat in die beeste en omgewing agterbly nadat daar gedip is, sowel as onsekerheid oor die omgewings impak as gevolg van die gebruik van dipmiddels, het daartoe gelei dat daar nou nie meer NET van dip gebruik gemaak word om bosluise te beheer nie, maar ‘n meer geïntegreerde benadering. Om hierdie rede word Rooiwater entstowwe saam met dip aanbeveel. 
  •  Indien daar areas met bosluise is wat MOET bewei word, moet verseker word dat diere voor die ouderdom van 6 maande blootgestel word aan daardie area. 
  • Daar moet in gedagte gehou word dat indien beeste ingespuit is vir Rooiwater met Imidocarb Diproprionaat (slegs op voorskrif), ook bekend as Barenil,  moet daar ‘n onttrekkings periode van 213 dae vir vleis en 21 dae vir melk toegelaat word. 
  • Beeste moet ook toegelaat word om besmet te word met die Rooiwater parasiet binne 4 weke nadat hulle ingespuit is daarteen.  Dit sal die beeste toelaat om immuniteit teen Rooiwater te ontwikkel, en dis belangrik om te onthou dat indien die beeste nie besmet word in die 4 weke na inenting nie, sal hulle nie volwaardige immuniteit ontwikkel nie, en dus weereens vatbaar wees daarvoor. 
  • Kontak u veearts onmiddellik as u vermoed van u beeste het Rooiwater onderlêde. 

 

Wanneer beeste herstel het van Rooiwater, moet onthou word om Yster en Vitamiene aan daardie diere toe te dien.