DIE BELANGRIKHEID VAN FOSFAAT AANVULLING OP GROEN WEIDINGS

Andries Kruger, Tegniese Adviseur AFGRI Veevoere

Fosfaat aanvulling op groen somerweidings is ‘n konsep wat al vir baie jare lank beproef, nagevors en bewys is, maar tog word die erns van fosfaat aanvulling steeds nie genoeg beklemtoon nie. Wanneer dit by die weidende dier kom, word fosfor as die ekonomies belangrikste mineraal in Suid-Afrika beskou, vergeleke met ander spoorelement tekorte soos sink, selenium, mangaan en koper.

 

Fosfaat tekorte affekteer herkouers – veral beeste – die meeste en is dus krities belangrik vir herkouers. Fosfaat aanvulling behoort dus algemene praktyk te wees vir enige veeboer.

 

Wanneer word fosfaat aanvulling gegee?

‘n Tekort aan fosfaat kom in meeste dele van Suid-Afrika se weidings voor en word hoofsaaklik aangevul deur ‘n lek in die somerseisoen, wanneer die weidings in hul aktiewe groeistadium verkeer. Die meeste grondtipes in Suid-Afrika voorsien nie genoegsame fosfaat aan die plant nie en die fosfaat wat deur die weiding aan die dier verskaf word is gevolglik onvoldoende. Daarom is dit belangrik vir fosfaat aanvulling op groen weidings, veral aan laat-dragtige en lakterende diere.

 

Gedurende die somer is die beskikbare energie en ru-proteïen in die weidings voldoende, wat fosfaat aanvulling meer suksesvol maak. Fosfaat aanvulling kan egter tydens die droër wintermaande, wanneer die weidingskwaliteit baie afneem en die energie en ru-proteïen beperk is, nadelige gevolge, soos gewigsverlies, hê. Dit is belangrik dat indien fosfaat in die winter as byvoeding gegee word, dit met ‘n goeie ru-proteïen aanvulling gepaardgaan.

 

Hoeveelheid fosfaat per dag

Die doel van enige vorm van byvoeding is om die verskil tussen die dier se behoeftes en dit wat die dier uit die weiding kan kry te verskaf. Herkouers se behoefte aan fosfaat word bepaal deur die dier se fisiologiese status, die tipe dier en die fosfaat tekort in die beskikbare weiding. Die voorgeskrewe inname van fosfaat per bees per dag is soos volg: 6 g vir droë beeste, 9 g vir laat-dragtige diere en 12 g vir lakterende diere. Indien ‘n area uiters fosfor-arm is, moet die hoeveelheid met 3 tot 4 gram fosfaat per bees per dag verhoog word.

 

Die biologiese belang van fosfor in die liggaam

Fosfaat is by baie metaboliese en strukturele prosesse in die liggaam van die dier betrokke en verrig belangrike funksies, veral wanneer dit kom by energiemetabolisme.

 

Fosfaat speel dus ‘n belangrike rol in die omskakeling van weidingsenergie na energie wat bruikbaar is vir die dier se liggaamsfunksies. Fosfaat verrig onder meer funksies soos die regulering van die pH-balans in die liggaam, osmotiese druk, eierselontwikkeling (wat vrugbaarheid beïnvloed) en skeletontwikkeling. Dit speel ook ‘n groot rol in seldifferensiasie en groei. Die vervoersisteme van baie verbindings deur die wande van selle word ook deur fosfaat bepaal.

 

Die meeste fosfaat (80%) kom voor in die beenstruktuur, waar dit as fosfor reservoir dien, tesame met kalsium en magnesium. Daar is ‘n voortdurende opname en mobilisering van fosfaat en kalsium vanuit die beenstruktuur, veral by dragtige en lakterende diere, om in hulle behoeftes te voorsien. Wanneer daar ‘n tekort aan fosfaat is, word die reserwes gemobiliseer en meer fosfaat verdwyn uit die skelet as wat weer opgeneem en gestoor word. Sodra fosfaat vanuit die been geabsorbeer word, word kalsium en magnesium ook gemobiliseer, wat ‘n teken is dat fosfaat ‘n beduidende effek op ander minerale en steurnisse kan hê, veral wanneer daar ‘n tekort is.

 

Daar bestaan ‘n noue band tussen fosfaat, kalsium en vitamien D, omdat al drie ‘n regstreekse invloed het op die fosfor metabolisme prosesse van die liggaam. Dit is dus baie belangrik dat die Ca: P-verhouding reg moet wees (2:1), sowel as die vlakke waarteen vitamien D teenwoordig is. Indien een of die ander nie in balans is of teenwoordig is nie, sal die metaboliese prosesse nie optimaal kan voortgaan nie en die gevolg is dat die steurnisse of tekorte net sal vererger.

 

Die teenwoordigheid van hoë vlakke van ander minerale kan ook ‘n nadelige invloed op fosfaat absorpsie hê. Wanneer kalsium, natrium, yster, aluminium of molibdeen in hoë konsentrasies in die drinkwater of grond voorkom, kan dit sekondêre fosfaat tekorte veroorsaak, omdat dit komplekse vorm wat fosfaat opnames ontoeganklik maak in beeste.

 

Simptome van P tekort:

Kliniese P tekort Subkliniese P tekort
·       Pika

·       Dowwe haarkleed

·       Ragitis

·       Abnormale skeletontwikkeling

·       Lusteloosheid

·       Vermaering

·       Aptyt verlies

·       Stywe gewrigte

·       Omkrul kloue

·       Verlaagde vrugbaarheid

·       Ongereelde hittesiklusse

·       Verlaagde weidings inname

·       Verswakte voeromsetvermoë

·       Verlies in melk produksie

·       Swakker speenmassas

·       Onderdrukte immuniteit

 

Ekonomiese rol van fosfaat aanvulling

Fosfaat aanvulling speel nie net ‘n belangrike rol in die gesondheid van ‘n dier nie, maar hou enorme ekonomiese voordele vir die veeboer in. Daar word dikwels opgemerk dat fosfaat aanvulling te duur is, maar die feite spreek duidelik genoeg dat dit jou duurder te staan gaan kom indien jy nie fosfaat as byvoeding vir jou beeste gee nie. Die voordele soos verhoogde  kalfpersentasie (reproduksie), speenmassas, melkproduksie, besetting en groei, is hoofsaaklik as gevolg van verhoogde  weidingsinname, wat deur fosfaat aanvulling gestimuleer word.

 

‘n Berekening is gemaak uit sestien proewe, om die gemiddelde kalfpersentasiesyfers te bepaal van koeie wat fosfaat aanvulling gekry het, teenoor die kontrolegroepe wat geen fosfaat aanvulling gekry het nie. Die syfers stem ooreen met dié van Read (1984) waar koeie wat fosfaat aanvulling ontvang het ‘n kalfpersentasie van 80% gehad het en koeie sonder enige fosfaat aanvulling ‘n syfer van 51% behaal het. Read et al. (1986) het bevind dat speenmassas ook 27% hoër was by diere wat fosfaat  aanvulling ontvang het. Deur net na hierdie paar syfers te kyk, kan mens klaar die ekonomiese effek van fosfaat sien.

 

Fosfaatlekke

Van alle lekke het fosfaatlekke die grootste ekonomiese impak tot gevolg. Daar bestaan ‘n magdom fosfaatbronne in die mark wat voorgestel word vir fosfaat aanvulling vir beeste, hetsy klaarvervaardigde produkte, of konsentrate vir boere wat self lekke meng. Dit is krities belangrik dat veeboere verstaan dat fosfaatbronne se gehalte, biologiese geskiktheid en opneembaarheid baie kan verskil. Die produsent moet daarop ingestel wees om die beste gehalte fosfaatbronne te koop by geakkrediteerde instansies, wat die fosfaat- en kalsiumgehalte waarborg.

AFGRI Veevoere se fosfaat aanvulling PROFOS P6 is ‘n klaar gemengde fosfaat-soutspoorelementaanvulling vir herkouers op groen weidings, wat alle noodsaaklike spoorminerale in die regte verhouding bevat. Dit bevat ook 17% proteïen wat met die rumenfunksie, veral in mid-somerdroogtes help.

 

Aanbevole inname vir PROFOS P6

Dier gram/dier/dag

Beeste 150 – 240 g/dag
Jong, groeiende diere 100 – 120 g/dag
Lakterende diere 200 – 240 g/dag
Droë koeie 150 – 200 g/dag
Skape 17 – 40 g/dag
Lammers 15 – 18 g/dag
Lakterende ooie 25 – 40 g/dag
Droë ooie 20 – 30 g/dag

 

 

Daar is ook ‘n PROFOS-konsentraat wat vir selfmengdoeleindes gebruik kan word, maar die konsentraat moet slegs teen die streng aanbevole aanwysings van ‘n AFGRI-tegnikus gemeng word.

 

Om op te som: Elke veeboerderypraktyk in Suid-Afrika behoort ‘n mate van fosfaat aanvulling te gee. Die ekonomiese impak wat fosfaat aanvulling veral op beeste het, is te groot om te ignoreer. Om ‘n vee-komponent uit te brei is grond al meer die  beperkende faktor en daar word meer en meer na vertikale groei gekyk. Dit kan met ‘n klein aanpassing soos fosfaat aanvulling bereik word.