Die regte lekaanvulling tydens dragtigheid en laktasie verseker sukses in skaapboerdery.

Willem Venter , Tegniese Adviseur AFGRI Veevoere

 

Om produksie te optimaliseer is dit belangrik om die korrekte bestuurspraktyke toe te pas. Produsente skrum soms weg van die regte ding om te doen as gevolg van die koste, maar verloor dan omdat produksiedoeltreffendheid ingeboet word. Strategiese voeding op die korrekte tyd sal altyd koste-effektief wees en die winsgewendheid van die boerdery verbeter.

 

’n Goeie voorbeeld in die praktyk is waar ’n produsent AFGRI Veevoere se Supertech 25 gebruik het en weereens bewys het watter goeie veeldoelige produk dit is as aanvulling vir ooie voor lamtyd, vir ooie met sogende lammers en vir wolproduksie. Volwasse Dohnemerino- ooie is begin April 2018 in twee groepe verdeel. Altesaam 400 ooie is met Dohne-ramme en 200 ooie met Suffolkramme gepaar. Dormer-ramme is gebruik om 440 tweetand- Dohne-merino-ooie te paar. Ramme is ’n dektyd van vier weke gegee en ooie het Supertech 25 meel teen 150 tot 200 g per ooi per dag vanaf vier weke voor paring as prikkelvoeding asook gedurende die paringsperiode ontvang.

 

Ná die dekseisoen is die volwasse ooie vir nog ’n verdere twee weke Supertech 25 gevoer. Die terrein was van so ’n aard dat ooie nie daagliks gevoer kon word nie, maar slegs drie keer per week. Daar is dus oorgeskakel na Skaaplek 35, ’n hoëproteïenlek met ’n laer inname. Die inname was ongeveer 150 g Skaaplek35 per dag op die laekwaliteitweiding. Die tweetandooitjies is steeds Supertech 25 gevoer omdat ooitjies nog in ’n groeifase is en ’n groter behoefte aan hoëgehalte- verbyvloeiproteïen het om groei te handhaaf.

 

Volwasse ooie is ses weke voor lamtyd weer oorgeskakel na Supertech 25 korrels teen 250 g per ooi per dag. Supertech 25-inname is weekliks met 50g per ooi per dag vermeerder totdat die ooie begin lam het. Enkeling-ooie se innames is beperk tot 400–450 g per dier per dag. Ooie met meerlinge, wat groter voedingsbehoeftes het, het 500g Supertech 25 korrels per dag per ooi asook bykomende lusern aan die kant ontvang. Ooie met lammers is op aangeplante weidings geplaas met 150g Supertech 25 meel per dag per ooi as aanvulling. Namate die gehalte van die aangeplante weiding afgeneem het, is innames verhoog tot 200 g per ooi per dag. Lammers is op ongeveer vyf maande gespeen bemark.

 

Die eerste 300 Dohne-kruisraslammers wat van die ooie af bemark en laat slag is, het almal A2 gradeer met ’n uitslagpersentasie van 49.03% en ’n gemiddelde karkasmassa van 20,5 kg. Tweetandooie wat met Dormerramme gepaar is, se lammers is as stoorlammers teen R32.50 per kg verkoop. Lammers het geen kruipvoeding gedurende die periode van lam tot bemarking ontvang nie.