Waterkrip bestuur
Dries Swart, AFGRI Veevoere
Water is vir alle diere noodsaaklik vir lewe en is die een nutriënt wat in die grootste hoeveelhede benodig word deur soogdiere. Water speel ‘n baie belangrike rol in melkproduksie, beheer van liggaamstemperatuur en baie ander liggaamfunksies in melkbeeste. Alhoewel voer en rantsoen beheer gereeld in diepte bespreek word, word waterinname, beskikbaarheid en kwaliteit gereeld misgekyk.
‘n Beperking in toegang tot skoon, vars en hoë kwaliteit water kan baie vinniger ‘n negatiewe uitwerking op melkproduksie hê as ‘n tekort aan enige ander nutriënt, aangesien melk uit ongeveer 87% water bestaan. Behalwe dat water so ‘n groot persentasie van melk opmaak, reguleer dit ook voerinname. Daarom is dit van kardinale belang om te verstaan hoe belangrik water vir diere is, asook hoe om dit reg te bestuur in ‘n melkery om seker te maak dat die diere genoeg water sal inneem.
Koeie in melk benodig ongeveer 5L water vir elke 1kg melk wat geproduseer word, waarvan 80% tot 90% afkomstig is van drinkwater, die res word vanuit die voer opgeneem.
Temperatuur en humiditeit verhoog drasties die hoeveelheid water wat benodig word, veral tydens warm somerdae, wanneer diere hittestres ervaar. Waterinname kan dan met ‘n faktor van 1.2 tot 2 maal die normale behoefte verhoog word. Dus kan ‘n koei wat 50kg melk produseer tussen 250 en 350 liter water per dag drink wanneer temperature 27®C bereik. Om die koeie toe te laat om hierdie groot hoeveelhede water in te neem, kan dit nodig wees om ekstra water punte beskikbaar te maak wanneer die temperatuur styg.
Die water moet ook baie goeie kwaliteit wees om te verseker dat die koeie voldoende hoeveelhede sal inneem. Onvoldoende water toevoer, of water van ‘n swak gehalte kan lei tot ‘n verlies in produksie, verlaag algehele weerstand tot siektes en kan in sommige gevalle lei tot ‘n uitbraak van siektes. Water krippe moet dus teen minste een maal per week dreineer en skoongemaak (geskrop) word met ‘n swak chloor oplossing (1 koppie huishoudelike ‘bleach’ opgelos in 20L water) om water kwaliteit te verbeter. Die oplossing moet uitgespoel word en met skoon water vervang word na die skoonmaak proses.
In die algemeen drink koeie in kort intervalley (7-12 maal per dag) waartydens hulle tussen 10 en 20 liter water op ‘n slag sal drink, daarom is die vloei tempo van die water by die krippe baie belangrik om voldoende waterinname toe te laat. Koeie moet in staat wees om water te drink sonder om lug te sluk. Wanneer koeie direk uit die waterkrip se kraan drink moet daar inspeksie op die vloeitempo gedoen word om te verseker dat dit voldoende is.
In terme van water beskikbaarheid moet daar minstens twee water punte beskikbaar wees per groep, om te voorkom dat dominante beeste ‘n enkele water punt kan beheer en sodoende die ‘swakker’ diere verhoed om genoeg water in te neem. Daar moet voorsiening gemaak word sodat 10% tot 15% van ‘n kudde gelyktydig kan drink. ‘n Minimum van 1.2m trog spasie moet beskikbaar wees vir elke 20 koeie (oop-oppervlak watertenk) om dit moontlik te maak.
Waterpunte moet geplaas word in areas wat direk na melking beskikbaar is. Die waterpunte moet groot genoeg wees om al die koeie wat terug keer vanaf ‘n melking gelyktydig te akkommodeer. Melkkoeie drink 50 – 60% van hul daaglikse water behoefte direk na melking. Daarom word dit aanbeveel om ongeveer 0.5m krip spasie per koei beskikbaar te maak in die wandelpad vir die koeie wat na melking terug na hul behuising of kraal stap.
Skoon waterkrip. Skoonmaak (skrop) van vuil krip.





.png)
